Die gewilde sanger Danie Niehaus en sy meisie, Marianne Lochner, het onlangs in Turkye gaan vakansie hou. Hy deel sy foto's en ervaringe met SARIE.com.

Turkye: Land van melk en heuning

1

Ek en my meisie, Marianne Lochner, bewonder die sonsondergang voor ons hotel in Kusadasi, waar ons ‘n private strand en bootvasmeerplek gehad het.

2

'n Lekker swem in die Egeïese See - wat meer kan 'n man dan vra ná 'n hele dag se rondry en verdwaal tussen hordes ruïnes en antieke stede? Hier koel ek af voor ons hotel in Kusadasi, eens 'n gewilde hawe vir seerowers.

3

Ek rus bietjie op die muurtjie voor die huis waar die maagd Maria vermoedelik haar laaste jare deurgebring het ná Jesus se kruisiging. Die gebou teen die Solmisosberg in Efese is 'n paar keer verwoes en oorgebou. 'n Non het die oudste stuk van die fondament aan my uitgewys, waar ek 'n piepklein klippie gevind het - een van my belangrikste aandenkings van Turkye. Om die spesiale geleentheid te vier het ek ook 'n slukkie water uit die fontein daar naby gedrink.

4

Tussen die sewende eeuse ondergrondse stad Kaymakli en Göreme het ons by 'n wynmaker en kennis van my nuutgevonde Turkse vriend, Balkir, gestop en heerlike wyn geproe. Die Turke maak al wyn van die Hetitiese tyd af en die vulkaniese asklip is besonder vrugbaar. Die vriendelike wynmaker het ons van al sy wyne laat proe en ook tradisionele kostuums aangedra toe ons begin foto's neem. Hier sit ek reg om die Ottomaanse ryk te beheer.

5

Ek en Marianne proe wyn saam met die Turkse musikant Bilal en vriend, Balkir, wat ons 1 hele dag in Cappadocia rondgeneem het. Die rooi- (kirmizi) sowel as witwyn (beyaz) is heel aangenaam - teen R200 per bottel behoort dit te wees! Hier klink ons glasies met die uitroep "sjerefe" (gesondheid).

6

Ná 'n asembenemende besoek aan die ondergrondse stad Kaymakli wat sewe vlakke diep is, het ons verby die roomysstalletjie geloop. Al die roomysverkopers dra min of meer dieselfde gewaad en party doen selfs toertjies terwyl hulle die roomys (dondurma) vir die kinders opskep. Hier kry ek my beurt om my slag te wys. 'n Hele groep besoekers het in hul spore omgedraai toe ek die groot roomys teen een Turkse lira begin verkoop. Dit het 'n ruk geneem om die eienaar te oortuig dat ek net 'n grap gemaak het, want dit kos aansienlik meer.

LINKS:

Net buite die stad Avanos word die mooiste potte gemaak uit klei van die Kizilirmakrivier wat so genoem is weens die rooi kleur van sy modder en klei. Die ondergrondse museum en pottebakkersentrum van 1 500 vierkante meter is heeltemal uit rots gekap en beskik oor die beste versameling potte en voorwerpe in die vulkaniese streek oor verskeie millenia. Danksy die uiters vriendelike museumbestuurder kon ek en Marianne elkeen ons eie pot maak. Hier kry ek my beurt.

REGS:

Ek en die 2 Turke wat ons vergesel het, loer deur 'n gat in een van die honderde grothuise en -kerke in die Zelve-opelugmuseum. Vroeër die dag het ek en Marianne vir die musikant Bilal en nog 'n paar Amerikaanse toeriste een van Koos Doep se liedjies, "Gebed", gesing in 'n grotkerk by Cavusin, waar Johannes se spore ook geloop het. Dit was baie spesiaal, want selfs al kon hulle nie 'n woord verstaan nie, soos ons ook nie van Bilal se musiek nie, het die pragtige akoestiek van die grot die oomblik roerend gemaak.

9

Die teater by Patara, die geboorteplek van Sint Nikolaas, oftewel Sinterklaas, is een van vele oorblyfsels uit die Romeinse tyd. Hier het Brutus die Patarane met menseslagting gedreig, maar weer bevry nadat hy al hul goud en silwer afgeneem het. As sanger moes ek darem net iets in die eens glorieryke teater sing en 'n klein stukkie potskerf as aandenking hiervan saamneem.

Moenie die res van die album misloop nie. Klik op die pyltjies hieronder om die res van hul reis te sien.

*Alle foto's verskaf aan SARIE.com. Foto's se kopiereg lê by Danie Niehaus.