Gwyneth Paltrow en Chris Martin het sowat 2 weke gelede aangekondig dat hul huwelik verby is, maar sy dra steeds haar trouring.

Ná die nuus van die egskeiding was daar twee gerugte - die eerste van ’n Britse poniekoerant dat Chris hard probeer om haar terug te wen en die tweede een van die Amerikaanse tydskrif People wat beweer dat hulle ’n oop verhouding gehad het en lank reeds nie meer ’n hegte verhouding gehad het nie.

Só het Gwyneth en Chris vir hul kinders gesê hul skei PLUS raad van die eksperts

Steelfoto's wys dat Gwyneth nie haar trouring op hul gesinsvakansie, waarop hulle direk ná dié aankondiging vertek het,  gedra het nie. Maar toe sy terug is in Los Angeles was die ring weer op haar ringvinger.

En op die foto wat Gwyneth vanoggend van haarself en hul 8-jarige Moses op Instagram gedeel het, wys sy haar ring weer vir die kamera.

Maar wat beteken dit?

Blykbaar nie veel nie. Vir baie mense is ’n ring ’n teken van die verbintenis van die huwelik en nie noodwendig die verhouding tussen man en vrou nie. En Gwyneth het dit duidelik gemaak dat sy én Chris nog verbind is aan mekaar omdat hulle ’n gesin het, berig Daily Mail.

Sy het op haar webtuiste, Goop, geskryf: "Ons is en sal altyd ’n gesin wees en in sekere opsigte is ons nader aan mekaar as ooit tevore. Ons is eerstens ouers van twee wonderlike kinders ... "

Die paartjie het in 2003 getrou en het twee kinders saam, Apple en Moses. Die afgelope paar maande was daar baie gerugte dat Gwyneth met ander mans uitgaan wat glo die onderwerp van ’n Vanity Fair-artikel sou wees. Daarom het sy glo aan al haar hoë-profiel vriende gesê om nie met dié tydskrif te praat nie.

Gwyneth het in 2013 tydens ’n onderhoud gesê dat die huwelik moeilik is. "Ons het goeie tye en ons gaan deur moeilike tye. Ons is dieselfde as enige ander paartjie."

Gwyneth by Appel (regs) en Moses (links). FOTO: GOOP Gwyneth by Appel (regs) en Moses (links). FOTO: GOOP

Bron: Daily Mail