Eens op 'n tyd was daar vier fotograwe in "The Bang Bang Club". Nou is daar net twee oor - Joao Silva en Greg Marinovich. Hul boek, The Bang Bang Club, gaan van volgende maand af in Johannesburg verfilm word vir die groot skerm.

Dié twee het die boek geskryf om te vertel hoe die vier kollega's (en vriende) foto's en stories gejaag het in die 1990's tydens die doodsnikke van die ou politieke bedeling in Suid-Afrika. Dit was ’n vreeslose en soms roekelose jaag na die beste foto's. Ken Oosterbroek is doodgeskiet terwyl hy ’n skietgeveg in Thokoza gedek het enkele dae voor die 1994-verkiesing. Kevin Carter het selfmoord gepleeg ná hy die Pulitzer-prys gewen het drie maande na Oosterbroek se dood. Marinovich en Silva werk steeds as fotograwe.

Neels van Jaarsveld en Frank Rautenbach gaan saam met Ryan Phillippe en Taylor Kitsch die rolle speel van Silva, Oosterbroek, Marinovitch en Carter. Malin Akerman speel Anna, die foto-redakteur wat toegesien het dat hul foto's regoor die wêreld gesien is. Suid-Afrikaans-gebore Steven Silver is die regisseur.

Van Jaarsveld is baie opgewonde om Joao Silva te speel. "Die storie het my nog altyd geïnteresseer en dit is lekker om weer vir die groot skerm te kan werk en 'n bietjie weg te beweeg van sepies. En in 'n projek wat so 'n belangrike deel van ons geskiedenis reflekteer."

Silva praat met gemengde gevoelens oor die boek se verfilming. Trots en opgewonde is hy wel, maar ook 'n bietjie omsigtig – "veral omdat ek nie weet hoe die eindresultaat van die movie gaan wees nie. Maar dit is nie 'n klein ding hierdie nie. Ons loop 'n baie nou paadjie met die vervaardigers en die regisseur. En ook met die akteurs. Neels speel my in die film en ek weet nie wat hy met sy hare gaan doen nie, want dis baie meer as wat ek het!

"Toe ek en Greg die boek geskryf het, het ons geweet ons is besig met 'n waardevolle en belangrike storie - om Ken en Kevin se stories te vertel. Ons was besig met die maak van geskiedenis. Kevin se selfmoord was groot nuus regoor die wêreld. Mense was gefassineer deur sy dood, so kort nadat hy die Pulitzer gewen het vir die foto van die kind en die aasvoël. Dit het hul verbeeldings aangegryp. Dat ons storie 'n movie sou word, het ons nooit verwag nie. Dit is baie emosioneel om al die ou ervarings weer te herleef.

"Ek moet noodwendig nou weer na al die foto's kyk wat ek in daardie tyd geneem het, en dit is moeilik. Ons moet in die film 'n verwysingsraamwerk skep van hoe ons aangetrek het en hoe die plekke gelyk het waar ons was en so aan."

Silva werk die afgelope 13 jaar as foto-joernalis vir die New York Times, waar hy na ál die hot spots gestuur word, soos Afghanistan en Irak. Verlede jaar was hy vir ses maande weg van die huis. Op 'n vraag oor hoekom juis dié tipe fotografie antwoord hy: "Ek word getrek om geskiedenis vas te vang en so te probeer help om die gemeenskap te verander. Ek bly verstom oor wat mense aan mekaar doen en hoe wreed hulle teenoor mekaar kan wees. Ek probeer die realiteit van die wêreld uitwys en só 'n verskil maak. My vrou is van my Bang Bang Club-dae reeds in my lewe en weet dit is wat ek doen. Sy ondersteun my."

Besoek ook: http://digitalfilmmaker.net/Bang/bangbangclub.html
http://www.hbo.com/docs/programs/kevincarter/synopsis.html
http://www.joaosilva.co.za
http://www.pulitzer.org