Bryan en Janine Habana en hul tweejarige seuntjie, Timothy, het op ’n Kaapse strand geposeer vir die mooiste foto’s van hulle drie as gesin.

Hanri Human, bekende Pretoriase fotograaf, was agter die kamera om die spesiale oomblikke vas te lê toe die Habanas onlangs uit Frankryk in Suid-Afrika kom kuier het.

Wanneer Janine haar en Bryan se lewe saam beskryf, kies sy die woord "kaleidoskoop". Sy het aan SARIE.com verduidelik waarom:

“Dis die een woord wat ons lewe saam die beste kan beskryf: ‘’n voortdurende veranderende stel kleure of ander dinge; om te beweeg in verskuiwende patrone; twee spieëls wat patrone van mekaar af reflekteer vir ’n oneindige kombinasie patrone’.” 

Plaas die kaleidoskoop van ’n lewensreis op ’n rots van onvoorwaardelike liefde en daar het jy dit – ’n huwelik wat ek koester.

Die paartjie woon sedert 2013 in Frankryk waar Bryan vir die klub Toulon rugby speel. Die Son het vroeër berig dat Habana sy kontrak by die Europese kampioen met nóg ’n jaar (tot einde 2017) verleng het. Die 33-jarige vleuel het ook die nuus op Twitter gedeel.  

“Totdat die lewe ’n Europese ompad met ons gestap het, was ek en Bryan lieflik onbewus dat so ’n Provençal-reis eintlik soveel beter vir ons sou wees, as die besige gejaag waarin ons onsself bevind het. ’n Ander perspektief op die lewe was een van die grootste geskenke wat die trek vir ons gegee het. Dit het vir ons ’n nuwe uitkyk op ons lewe en op mekaar gebring. FOTO Hanri Human FOTO Hanri Human

"Ons is elke dag opnuut dankbaar vir ons avonture saam. Natuurlik is al die avonture nie altyd net lekker nie. Soms is daar opofferinge, wat geduld en deursettingsvermoë verg. Maar die liefdesfees se avontuur bring ook wonderlike, onvergeetlike herinneringe.

"Om dit saam met Bryan te kan deel is ’n droom wat bewaarheid word. Timothy maak die avontuur nog meer kosbaar en ons is versot daarop om sy ouers te kan wees! Wat ’n voorreg om ’n hartjie te lei en te leer hoe om te wees, te lewe en lief te hê! Ons groet elke oggend op pad speelskool toe die dag met: ‘Goeiemôre, pragtige dag!’ En so het ons geleer al is ons ver van die Kaap en haar wonderlike mense, is ’n dag wat ons saam kan deurbring, elke dag ’n pragtige dag,” vertel Janine oor hul lewe saam.  FOTO Hanri Human FOTO Hanri Human

Kyk hier na die pragfoto’s wat einde Januarie vanjaar op Llandudno se strand geneem is.

(blaai deur die galery)

Fotograaf Hanri het ’n paar geheime oor die fotosessie verklap:

“Toe Janine en Bryan uit die kar klim, was dit asof somer van voor af weer sy kop in Suid-Afrika uitgesteek het. Hulle is sonskyn! Van die eerste sekonde wat ons saam met hulle begin werk het, het dit gevoel of ons die Habanas al jare lank ken."

Hanri beskryf hulle soos volg: "Bryan is ’n boksie vol grappe, Janine is die rustigheid vanself en klein Timothy is so soet soos die kinders in storieboeke. Dit was ’n breeze om die Habanas voor my lens te hê.”

Waar het Hanri haar inspirasie vir die fotosessie gekry?

“My inspirasie vir die goud-en-swart kleurskema gekombineer met die geel van die sonsondergang het ek eintlik by Janine gekry. Sy is so tydloos en classy. Ons moes iets met flairdoen. Dis toe dat ek besluit het op Dolce & Habana: klassiek, formeel en FABULOUS!”

Janine oor ...

... Frankryk

“In Frankryk aangekom het my lewe ewe skielik ’n dubbel-rol ontvang: Ek besit en bestuur steeds my Wellness Centre, Femme Fitness in die Kaap (Panorama), terwyl ek ook moes leer om hier ’n huisvrou te wees! Die lewe in Europa is baie meer minimalisties, maar dit beteken ook mens doen als self. Dit hou my besig, en dan natuurlik ook maak ons Timothy groot, die beste deel!”

* Femme Fitness is ’n gesondheidsentrum vir vroue wat swanger is of hul lyf wil terugkry ná swangerskap. Hulle help om vroue fiks te hou tydens swangerskap en weer sterk te maak en op hul voete te kom ná geboorte.

“Al is ek nou ’n rugby-wife en mamma is ek eintlik ’n fiksheidentrepreneur met ’n honneursgraad in sportwetenskap. Bryan het my nog altyd ondersteun om my drome na te volg.” ... Bryan “Nou die dag kyk ek hoe Bryan met Timmy speel en besef ek opnuut: Hy is gebore om ’n pa te wees! Dit kom so natuurlik vir hom. Vir die wêreld is hy ’n legendariese sportheld wat al sy hoogste drome al bereik het. Hy is maklik die mees hardwerkende en etiese mens wat ek ken. Daarom sou jy maklik dink dat dit nie beter raak as dit nie, maar dit doen: Hy is ’n wonderlike pa.

Hoe hy is as pa en huweliksmaat is ver bo al sy prestasies as sportheld op die veld.

Liefdevol, sterk, nederig. Wanneer dit kom by my en Timothy, is niks ooit te veel moeite vir hom nie. Hy het ’n medemensliefde wat een van sy beste karaktereienskappe is en dis vir my ’n voorreg om hom te sien gloei as ’n wonderlike nuwe pappa.”

FOTO Hanri Human FOTO Hanri Human

Die volgende verskaffers het gehelp om die sprokiesmooi fotosessie moontlik te maak:

Blomme: Paramithi Flower & Decor Design

Hare en grimering: Corle Barnard

Dekor en stilering: Mon Amour Events

Rok: JanitaToerien

Lees nou

QUIZ: Wie se baba is dit?

Proteas-babas: Kyk hoe lyk hulle nou!

George Clooney se ma verklap geslag van babas