Vir mense wat nie naby filmsterre lewe nie, is daar nie veel kans om hul ware kleure te sien nie. Maar in die nuutste uitgawe van W magazine gebeur presies dít.

Die idee hieragter is om 33 van die grootste sterre wat in 2012 se gewildste rolprente gespeel het, sonder enige pretensie aan die wêreld te wys.

Onder dié sterre is Nicole Kidman, Marion Cotillard (Inception), Jessica Chastain (The Help), ’n baie maer Matthew McConaughey (hy het 17 kg verloor vir sy rol in The Dallas Buyers Club) Keira Knightley (Anna Karenina), Rachel Weisz (The Bourne Legacy) en selfs Richard Gere.

Kristen Stewart, wat bekend is vir haar rol as Bella in Twilight, lyk gemaklik voor die kamera met deurmekaar hare en min grimering.

Kirsten Stewart sonder grimering

Die 22-jarige ster het gepraat oor haar naak tonele in die rolprent On the Road, maar sê dit was die danstonele, eerder as die naaktheid, wat haar grootste uitdaging was.

Naomi Watts (foto heel bo) lyk beeldskoon met haar blonde hare en wit halternek in dié tydskrif. In die onderhoud sê die 44-jarige aktrise dat haar man, Liev Schreiber, eerder as sy die aandag op straat trek.

“Ek word min herken op straat. Ek's gelukkig in daardie opsig. Mense sien my as die filmster wat altyd opgedollie is, maar in die regte lewe lyk ek glad nie so nie ... Baie keer sal mense my eenkant toe skuif om by my man uit te kom ... dan vra hulle vir my om ’n foto van hulle saam met hom te neem. Hulle het geen idee wie ek is nie.”

Die tydskrif het die 33 akteurs en aktrises gekies omdat hulle hul karakters suksesvol multidimensioneel vertolk het. Die tydskrif glo dat films die afgelope jaar eenvoudige storielyne het – dalk omdat Amerika nou soek na helde en eenvoud. Maar die grys area – waar lewens nie eenvoudig is nie en die antwoorde nie maklik kom nie – is waar kuns seëvier. Volgens W magazine kon dié akteurs hul rolle in die grys area geloofwaardig speel.   

Kliek hier vir nog foto's.