Regisseur Jozua Malherbe en aktrise Rolanda Marais het die dag ná hul sprokiestroue op 6 Februarie vanjaar, by Old Mac Daddy in die Elgin-distrik, op ’n week lange wittebrood na die Turkse stad Istanbul vertrek.

“Dit was my verantwoordelikheid om die wittebrood te beplan. Rolanda het die hele tyd gedink ek gaan niks doen nie.

“Eers het ek gedink ons moet Kenia toe gaan. Ek was besig om aan Fluiters te skiet en het reeds kontakte gekry om daarheen te gaan. 'n Hotel op die strand het vir my geklink na romanse en rose.

“En toe, eendag terwyl ek huis toe ry, is dit net soos 'n stem van bo wat sê Turkye. Ek het nooit aan Turkye as ’n wittebroodsbestemming gedink nie; nog nie eens foto’s van Turkye gesien nie. Maar ek het onmiddellik huis toe gery en die kaartjies bespreek. Die besluit het ek gemaak suiwer op inspirasie,” vertel Jozua aan Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur.

ISTA0329 Dag 3 voor ons die pad gevat het: ’n vinnige selfie met my geliefde. FOTO Jozua Malherbe

“Istanbul is anders en vreemd,” sê hy. “Dis ’n Moslemstad met ’n ryk en diverse geskiedenis. Dit was my en Rolanda se eerste keer saam oorsee en dit was wonderlik om 'n stad wat 2 000 jaar oud is saam met my vrou te kon ervaar. Ons deel dieselfde belangstellings - restaurante, kunsuitstallings en museums.”

ISTA0082 Die Dinsdagmiddag het ons kunsgalerye en museums besoek. Dié foto is by die eerste galery geneem, by ’n uitstalling oor die geskiendenis van Istanbul. FOTO Jozua Malherbe

Rolanda vertel: “Ek is nie ’n eilandmens nie, nie met my wit vel nie. So 'n paar dae voor ons vertrek, vra ek toe vir Jozua hy moet nou vir my sê, want ek moet pak. Toe hy sê dis Istanbul, was ek baie bly. Dis so ’n ou stad met sy museums en kuns en pas by ons. Dit was fantasties saam met hom. Ons is nie konvensioneel nie, so Istanbul was perfek.

“Ek het al baie gereis en was al op baie plekke. Maar om dit saam met die liefde van jou lewe te doen, is dubbel so lekker. 'n Mens wil dit deel. Die ervaring is net beter en lekkerder,” beklemtoon sy.

Hulle deel hul wittebroodsfoto’s wat deur Jozua geneem is eksklusief met SARIE.com.

ISTA0652 Ná al die rondloop in moskees en kerke het ons in markies gaan kuier. Istanbul is groot op markte en hierdie foto is geneem by die Grand Bazaar, wat ook die oudste mark in Turkye is. Die mark is in 1461 voltooi en strek oor 61 strate. Dit was ’n wonderlike maar oorweldigende ervaring. Ons is daar weg met kruie, tee, parfuum en ’n klein Persiese mat. FOTO Jozua Malherbe

Blaai deur ons galery vir nóg foto's wat Jozua geneem het.