Die Dagbreek-aanbieder Rozanne McKenzie en haar man, Chris Bishop, het hul eerste baba, James Robert McKenzie Bishop, oor die naweek verwelkom.

"Ons is baie opgewonde," vertel Rozanne aan SARIE.com oor die kleinding wat Vrydagoggend by die Genesis-kliniek in Saxonworld, Johannesburg, gebore is. Sy het dié foto's aan ons gestuur. Sy lyk reeds na ’n natuurlike ma!

Rozanne en haar pragtige baba, James Robert McKenzie Bishop FOTO: verskaf Rozanne en haar pragtige baba, James Robert McKenzie Bishop
FOTO: verskaf

Rozanne en Chris se eiland-wittebrood - FOTO'S

Rozanne McKenzie en haar man, Chris Bishop, se klein James Robert McKenzie Bishop FOTO: verskaf Rozanne McKenzie en haar man, Chris Bishop, se klein James Robert McKenzie Bishop
FOTO: verskaf

"Ek is verras dat ek so vinnig verlief geraak het op die mensie wat in my maag groei," het sy vroeër vanjaar in ’n onderhoud met SARIE.com gesê - lees dié onderhoud HIER.

Ons het met Rozanne gesels oor ouerskap...

Wat dink jy gaan van Chris ’n goeie pa maak?

Chris gaan ’n baie goeie pa wees, want hy is mal oor kinders en kinders is mal oor hom. Hy is ook ’n baie rustige mens en hy luister goed en gee goeie advies. Hy kom van ’n fantastiese familie en die beginsels wat hy by sy ouers geleer het, is beslis wat ek wil hê ons kind ook moet leer.

Waarna sien jy die meeste uit van ouerskap?

Elke dag met ons kleinding gaan ’n eerste wees. Dit gaan ’n wonderlike avontuur wees om hom te leer ken en so meer uit te vind oor myself en Chris ook. Die mens wat hy word, hang af van die omgewing wat ons vir hom skep en die liefde wat ons vir hom gee. Ek kan nie wag om te sien hoe hy as mens groei nie.

Hoe berei jy jouself voor daarop om ’n ouer te wees?

Ek en Chris lees baie boeke oor ouerskap en ons woon kursusse by, soos CPR en antenatal-klasse, maar daar is net soveel navorsing wat mens kan doen om voor te berei. Ons ouers en vriende is ook vol inligting, maar aan die einde van die dag moet ons leer met elke dag wat hy in ons lewens is, want elke kind is anders.

Hoe gaan jy jou werk en ouerskap met mekaar kombineer?

Dagbreek en Jacaranda FM is albei so tegemoetkomend, so ek gaan bietjie tyd af vat en ek gaan ook net vir ’n paar maande met my ander vryskutwerk ophou. Ek en Chris werk verskillende ure, so wanneer ek terugkeer werk toe is hy by die baba terwyl ek werk en anders om. As ons albei nie saam met hom kan wees nie, sal ons ’n nanny hê wat na ons huis toe kom en uithelp.

Wat dink jy beteken dit om ’n ouer te wees?

Dis die belangrikste ding in die wêreld! Om iemand in die lewe te bring wat so afhanklik is van jou is die grootste uitdaging en dan om seker te maak jou kind word groot met al die liefde en ondersteuning wat hy nodig het... Ek kan nie wag nie!

Nóg bekendes se babas op SARIE.com