"Elke keer as ek my paspoort stamp om nog 'n deeltjie van die wêreld te sien, besef ek weer hoe gelukkig ek is om te kan doen wat ek doen. Ek leef my droom.

"Donderdag, 11 Februarie, was ek, moniQue en Dewald Wasserfal al vroeg by die lughawe vir ons vlug na Namibië. Ek is regtig mal oor Namibië en sy mense. Hulle is altyd so vriendelik. En almal praat die mooiste Afrikaans. Hulle 'r’e' is so duidelik."

"Ek moes my hare die afgelope week donker kleur vir Donkerland, 'n nuwe televisie-reeks wat ons besig is om te skiet. Dit klink my as ek die ding so luister dat mense nie regtig van die donker hare hou nie. Daar het selfs iemand op een van die sosiale blaaie gesê ek lyk “sieklik”. Ai, dan wonder ek altyd of mense gehoor het dat dit vir 'n TV-rol is. Dat ek 'n karakter speel. Maar in elk geval.

"Daar ontmoet ek 'n tannie in een van die klein winkeltjies in Namibië wat my vra of ek 'n foto saam met haar sal neem. Sy las toe by dat sy en haar hele gesin almal mal is oor my musiek. Toe ek wegstap, besef ek dat ek eintlik in 'n ander land is en mense selfs hier my liedjies ken. Dis nogals awesome!"

FOTO'S: Die span op Okahandja. Dewald Wasserfall, Corné Oostuizen (bestuurder van dié sangers), Willem Botha en moniQue.

"Grootfontein is 6 ure se ry vanaf Windhoek waar ons geland het. Ons het almal baie min slaap gekry, so dit was nogals lekker om bietjie in die bus te slaap. En dan het ons bestuurder, Corné ook nog verjaar! Ek dink nie dis die beste manier om te verjaar nie, maar dit was tog spesiaal, want hy was saam met 'n klomp vriende! Ek sê altyd, dit maak nie saak wáár ek is nie, solank dit saam met mense is wat spesiaal is."


FOTO'S: Gelukkig was hulle in goeie geselskap op die lang paaie van Namibië

"Ons het in die mooiste gastehuis gebly net so buite Grootfontein. Namibië is bitter warm en selfs daardie nag het ons nog buite gesit met somersklere aan. Die gasheer van die gastehuis het vir ons die aand die lekkerste kos gemaak - regte Duitse kos - varktjoppies, boerewors, hoender-kebabs, gebakte botterskorsie en groente.

"Ons kon egter nie te laat slaap die volgende oggend nie. Ons moes alreeds vroeg-oggend gaan soundcheck en radio-onderhoude toestaan. Die aand in Grootfontein het die mense ons op hulle hande gedra. Ek het al my CD’s uitverkoop en die mense het elke woord van 'Breek op in stereo' saam gesing. Die lekkerste deel van 'n show is altyd om ná die tyd met almal te praat en hulle stories te hoor!"

Namibië-toer11

LINKS: Willem se lys van liedjies vir die konsert op Grootfontein

REGS: Die skoolsaal vóór die optrede

Namibië-toer6

Willem berei voor voordat hy op die verhoog gaan

Namibië-toer7

FOTO: moniQue wag vir hul vlug op die lughawe

"Na slegs 3 ure se slaap het ons 04:00 in die bus geklim om terug lughawe toe te ry. Die bus was stil.  Almal het gelê en slaap. Die vreemdste ding is almal is opgewonde om oorsee te gaan - of dit nou vir kuier of werk is. Maar die heel lekkerste ding is om te land en jou paspoort te stamp as jy terug is in jou eie land."

Namibië-toer11