Aktrise en TV-aanbieder Franci Swanepoel is sedert April vanjaar op die waterkar. Boonop vorder haar loopbaan flink, met stewige rolle in onder meer die rolprent Abraham*. Die ‘wasem’ voor haar oë is weg, sê sy in haar eerlikste onderhoud nog

Ek stroop myself, ek kan mos nie jok nie,” sê sy met haar mooi heserige stem. Voor my sit een van Suid-Afrika se bekendste aktrises, wat die land met haar rol as Toeks in die M-Netsepie Binnelanders (2005 – 2011) verower het.

“Ek is op ’n goeie plek.”

Jy kan dit sien. Sy is bésig. Daar is die kykNET-reekse Ko lat ons fees (beplan vir 2015), oor al die verskillende feeste in die land, en Geskiedenis van Afrikaanse TV (waarskynlik in 2016 op die kassie) waarvan sy die aanbieder is. In Januarie is daar ook die kortflim Stom, wat die eerste keer vertoon is by dié kanaal se Silwerskermfees in Augustus vanjaar. En in

Oktober vanjaar was sy in die kortflim Lya se Karoo in kykNET se Ons Stories. Haar blougrys oë kyk diep in myne. Sy is ’n fyn waarnemer, net soos haar bekende radio-omroeper-pa, Nic, wat in 1989 oorlede is. Sensitief vir die mensdom se seer.

Dalk té sensitief …

Sy gaan haal haar storie ver. Alles het in April vanjaar begin, by Abraham, filmmaker Jans Rautenbach se eerste rolprent in dertig jaar. “Dit is ’n ware verhaal. En gaan oor die regisseur Jans en sy vrou, Almeri [vertolk deur Franci], wat op die plaas Oulap woon, buite Oudtshoorn. Jans neem die arm plaaswerker Abraham Soetland – ’n belowende kunstenaar wat met draad en klei werk – onder sy vlerk.” “Oom Jans” het ook vir háár die wêreld deur ander oë laat sien. “Ek het tydens die verfilming besef die lewe is meer as ’n partytjie. Ek het my doodgehuil by oom Jans.’’

En toe begin haar reis. “Jy staan mos nie net een oggend op en besluit nou drink ek nie meer nie.’’ Dit is iets wat jare lank by jou spook, vertel sy. Die wete dat jy móét ophou. Die ontkenning . . .

“Maar as jy eers AA toe gaan en sien iets kan jou help om op te hou, dit werk . . . Hoekom moet jy skaam wees? Daar sit baie verfynde, intelligente mense. Ek was verstom. Ons het vreeslike vooropgestelde idees oor alkoholiste. Dit was genade om by die punt te kom waar ek besef het: Genoeg is genoeg.”

Sy het haar kwota uitgedrink, reken sy. “Dit sal lekker wees om die tweede helfte van my lewe nugter te wees. Aanvanklik, ná jy ophou drink het, wil jy jou van sosiale dinge onttrek, want mense kyk anders na jou. ‘Franci sonder haar rooiwyntjie is mos nie meer Franci nie.’ Maar ek het reeds so ’n groot persoonlikheid, as ek die helfte verloor sonder die wyntjie, is dit ook oukei,’’ spot sy.

Die “wasem” voor haar oë is weg. “Ek onthou deesdae wat ek sien en voel fantasties.”

Jou ma, Marida, is ’n stigterslid van kykNET. Watter rol het twee bekende ouers in jou kinderjare gespeel?

Mense soos dr. Jan Schutte, doerie jare baas van die SABC, die Liewe Heksie-skepper, Verna Vels, en radioman Daniël Kirstein [albei oorlede], en Monica Breedt [eertydse radioomroeper, nou negentig plus] het almal laataand saam met my ouers gekuier. Ek en my sussie, Elsje, en broer, Jan – albei in die regswêreld – het dit soms verpes as ons laatnag slapend motor toe gedra word. Min het ons besef ons is in die geselskap van legendes. Baie van my ouers se vriende het lang tye in Nederland gewerk en op dié kuieraande het ons die pragtigste Nederlandse musiek geluister.

My pa was ’n meester-storieverteller. Toe hy eenkeer ’n hoorbeeld van die skrywer Dalene Matthee gaan maak, het sy hom in die middel van die nag wakker geskud en die huis uitgejaag, bos toe, omdat hy te veel gesnork het. Hy was ’n ongelooflike waarnemer en kon mense só goed beskryf. Ons is so geneig om te kyk, maar nie regtig te sien nie. Hy was regtig lief vir mense.

My ma is die wysste mens wat leef. Sy oordeel niemand en het geen vyande nie. Sy het my onvoorwaardelike liefde geleer. Sy baklei nie. Die lewe het haar ook al ’n paar taai klappe gegee, maar sy kla nie. Mense respekteer haar. Sy het ’n baie sterk waardestelsel en glo onwrikbaar in die krag van die gesin.

Het jy dit geniet om Toeks in Binnelanders te vertolk?

Dit was van my gelukkigste jare. Toeks sal altyd na aan my hart wees – sy was plat op die aarde, lief vir mense en reguit sonder om seer te maak. Maar sy én ek moes aanbeweeg. Regisseur Deon Opperman het my raakgesien en ’n lekker rol aangebied in die TV-reeks Hartland. Daarna het ander TV-rolle gevolg, onder meer Getroud met rugby, Donkerland, Sterland en Bloedbroers.

Wat is jou droomrol?

Als wat ek speel, is droomrolle. Ek geniet karakterrolle. Ek wil onder jou vel inklim, want ek is ’n eerlike akteur. Daar is ’n inherente goedheid in elke mens. Feekse, dronkaards, almal is ménse. En hulle verdien om met eerlikheid gespeel te word.

Jou man, Max (Baer), is sestien jaar ouer as jy. Hoekom werk jul verhouding?

Hy is ’n regte mán, ’n Weskusser van Vredendal. Hy bring nie ure voor die spieël deur nie. Hy het nie buie nie. Eintlik weet ek nie hoe hy dit met my uithou nie. Ek is ’n madam. Max draai altyd die ander wang. Toe ons begin uitgaan, het Jan vir hom gesê nóú gaan hy sy Heiland leer ken. Baie van sy vriende lyk soos ooms, maar hy is jonk van gees. Sy kollegas in die balie sê Max [’n advokaat] is beneuk, maar hy was nog nooit onbeskof met my nie. Ons verhouding is eenvoudig. Ons is mal oor sport, sit ure voor die televisie, maar ons baklei nie oor die remote nie. Hy bederf my met uiteet en bergbruidjies, my gunsteling-blom. En vat my landwyd saam na rugby-eindstryde. Ek kook vir hom lekker boerekos. Toe ons nege jaar gelede getroud is, het ek en my ma saamgewoon. Ek het vir hom gesê: Jy trou met die pakket. Nou woon ons drie saam in Aucklandpark, Johannesburg. Dit werk soos ’n bom. Maar ons is die kluisenaars. My ma die sosiale een.

Jy sukkel met angs . . .

Ek was nog in die laerskool toe ek die eerste keer flikkers voor my oë sien. Ek onthou ek kon nie asem kry nie, dit voel of jy ’n hartaanval kry. My ma het met my dokter toe gejaag; hy het gesê ek is net stout. In die hoërskool het dit weer gebeur. En sowat vyftien jaar gelede, wéér. Mense wat dit nie ken nie, sal dit nie verstaan nie. Dit is ’n seëning, maar ook ’n kruis, want dit leer jou nederigheid – jy weet nooit wanneer dit gaan toeslaan nie. Dis egter baie beter vandat ek ophou drink het. Dit is iets wat jy leer hanteer. Dit gaan nooit weg nie en ek sal altyd medikasie daarvoor gebruik. Byna soos iemand wat bipolêre depressie, diabetes of hoë bloeddruk het. My dokter sê as ek my medikasie staak, moet ek nie teruggaan na hom toe nie. Dit irriteer my as mense sê “stap om die blok”, of “drink ’n glas suikerwater” of “dink positief ”. Dis nie regtig die manier om angsaanvalle af te weer nie. Dié soort “raad” spruit uit onkunde.

Hoe voel jy oor plastiese snykunde?

Die toneelskrywer Hennie van Greunen het gesê as ek ooit my gesig verander, sal hy my nie weer in toneelstukke gebruik nie. Dit neem al die karakter uit jou gesig. Ek hou van dié kompliment. Ons is immers nie in Hollywood nie. Maar toe ek vier jaar gelede sowat 18 kg verloor het, het ek ’n tummy tuck gehad om die vellerigheid weg te sny.

Jy eet nie koolhidrate nie

Ek eet glad nie styselkosse soos brood, pasta, aartappels en rys nie, my liggaam is sensitief daarvoor. Ek kan nie soos ander mense eet nie en is altyd op dieet. Dit maak my verdrietig. Gelukkig het ek nie ’n suikertand nie. So nou en dan haak ek uit met carbs. Jy kan jouself ook nie in ’n tronk toesluit nie. Ek haat oefening. Die oulike poppies met die pakkies in die gim sit my af. So nou en dan dan kry ek ’n gier om op my trapmeul te stap . . .

Hoe was dit om saam met Jans Rautenbach aan Abraham te werk?

Hy het opnuut bewys dat dit nie nodig is om sulke fancy flieks met tegnologie te maak nie. Abraham se skoonheid lê in die eenvoud daarvan. Oom Jans het nie 7 800 ligte ingevlieg nie. Hy het die Here sê natuurlike lig in die Klein-Karoo gebruik.

DJ Mouton (Abraham) het in 45 °C op die treinspoor afgehardloop, totdat hy byna nie kon asemkry nie. Oom Jans wou hê die kyker moet dit kan sién. Dit is so ’n outentieke prent. Oom Jans is ’n formidabele man, ’n hartsvriend. Ek het hom twee jaar gelede ontmoet toe ek ’n dokkie by sy plaasskool, Vlakteplaas, gemaak het. Hy skryf, haal asem en lewe met sy hart.

Terloops, sy huiswerker, Beulah Mtanda, wat as kind op Oulap grootgeword het en sedert 1997 vir hom werk, is ook in die rolprent.

Het jy moed vir Suid-Afrika se toekoms?

Daar is korrupsie in ons land, ja, mense wat mag misbruik, maar tog ook baie mense wat na mekaar wil uitreik. Ek het dit aan my lyf ervaar toe ons Abraham geskiet het. Soms raak ek rasend oor hoe onverskillig taxi-bestuurders ry. Maar as ek sien hoe sport ons land herenig, is ek opgewonde. Elke mens soek maar net sy plekke in die son. As ons net verby kleur en sosiale stand kan kyk. En miskien kan besef ons is almal net ’n piepklein deeltjie in die heelal se legkaart . . .

Hoe vier julle Kerstyd?

Ons kinders is beste vriende, byna soos ’n bende. Ons het nog elke Kersfees saam gevier. Daar is Elsje en haar man, Francesco, ’n eiendomsontwikkelaar, en hul kinders Francesco (14), Niccolo (12) en Mia (11). Dan is daar Jan en sy meisie, Ismé, wat werk vir Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), en haar 19-jarige dogter, Isabel, ’n student in internasionale betrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch. En my ma en haar sussie Leonora van Staden, ’n teksredakteur van Kaapstad. Ons gee nie Kerstyd geskenke nie, maar het ’n tradisie waar almal geld vir ’n liefdadigheid van ons keuse gee. Kersoggend staan ons vroeg op en gaan saam kerk toe.

Ons probeer dié heilige dag eerbiedig deur vrede en liefde uit te leef. En ons kook ’n storm los – kalkoen, ham, skaap, groente en vrugteslaai en roomys en Peppermint Crisp-tert. Niemand is dan op dieet nie. En daarna móét jy mos gaan slaap.

Is jy lief vir Afrikaans?

Ek lees net Afrikaanse boeke en is deesdae só beïndruk deur die skrywer Chris Karsten. Ek is ook gek na Afrikaanse musiek soos Die Heuwels Fantasties, Laurinda Hofmeyr, Anna Davel, Jannie du Toit, Coenie de Villiers, Laurika Rauch. Die Stem is só mooi ingeweef in ons volkslied. Daar is wel dikwels ’n asprisgeit onder sekere Afrikaanses om ’n politieke punt te probeer maak wat holrug gery is. Die taal van jou hart moenie sulke konnotasies hê nie . . . Steve gaan my seker moker . . .Hoekom ruk mense iets moois uit verband uit?

Wat is jou werkplanne vorentoe?

Daar word ’n opvolg beplan van twee bestaande TV-reekse waarin ek fantastiese rolle speel. Ek kan niks meer sê nie. Ek is ook besig om ’n stuk te verwerk vir die verhoog. Dit is nou die regte tyd om my eie werk te skep, maar dit maak my bang om te skryf. Tog glo ek elkeen het ’n briljante storie in hom.

Om toneel te speel maak my gelukkig. Dit gaan nie oor geld of roem nie. Ek hou nie eintlik van die kollig nie, maar wil bloot die beste werk lewer wat ek kan en elke rol met oorgawe leef.

HOOFFOTO GENEEM BY die Nirox-stigting se beeldetuin. Die kunsuitstalling PLAY kan tot 30 Desember oor naweke by dié tuin besigtig word. Kry meer inligting by www.niroxarts.com/sculpturepark/currentexhibitions.htm of besoek http://cargocollective.com/playanexhibition