Stap jy die aktrise Susanne Beyers se Kaapse huis binne, groet die woord “waarlikwaar” jou op ’n muur in haar leefarea. Die ysterletters dans met mekaar, nes haar verlede en hede nou met mekaar vervleg word.

“My eerste huis waarin ek gewoon het, was in Hoopstraat op Robertson geleë. Die naam van die huis was Waarlikwaar.”

Nou, dekades later, het sy haar huis in die Kaap laat bou net soos sy dit wou hê. “Waarlikwaar ... dit was ’n volsirkel-oomblik. Vandag is ek ’n onafhanklike vrou, ek kan self besluite neem. En op ’n manier is ek terug op Robertson. Waarlikwaar, hier is ek nou ... terug. Miskien is dit ook ’n hunkering na die tyd toe ek die heel eerste keer die wêreld ontdek het.”

Maar op 65 is Susanne vergenoegd. Gemaklik met haar lyf en wese, al het sy onlangs ’n dubbele heupvervanging ondergaan en moes sy vir ses weke die wêreld met krukke aandurf.

“Ja, luister, regtigwaar. Ek was nog nooit een wat omgegee het hoe my huis lyk of oor enigiets nie. En nou nog minder,” skerts sy soos haar honde, Teddie en Poppie, alte lekker saamblaf.

Sy besef oudword lê nog voor vir haar. “Maar soos ek vandag hier sit, is dit die lekkerste tyd in my lewe. Ná kinders grootmaak, ná ordentlik wees, ná sosiaal aanvaarbaar wees, is hierdie tyd ... nóú, om regtig te doen nét wat ek wil ... eintlik bevrydend.”

Susanne raak vir ’n oomblik stil. Die horlosie teen die muur tik en tik en tik.

Die afgelope ruk het sy rolle vertolk wat haar met oudword en skielike afhanklikheid gekonfronteer het. Eers as René van Wyk in die gewilde kykNET-reeks Fynskrif, wat in April vir ’n derde seisoen terugkeer, en toe in die toneelstuk Die sonkamer, wat in ’n ouetehuis afspeel en by die afgelope Woordfees op die planke was. En in ’n Retief Scholtz-produksie later vanjaar vertolk sy die rol van ’n vrou wat aan alzheimersiekte ly.

“Dis snaaks hoe sekere rolle na jou toe kom as jy ’n nuwe fase betree of jouself in ’n situasie bevind, as jy ook deur so iets moet gaan. René se storielyn in die derde seisoen was moeilik, maar dit was ook voor my heupvervanging, so nes sy was ek ook in pyn. Dis vir my ’n joy om ouer rolle te speel. Ek geniet dit werklikwaar.”

Lank voor Susanne ’n bekende gesig in rolprente en op TV geword het, het sy radiowerk gedoen. “Ek het van graad 8 af in radiostories gespeel. Radio het my gedra deur my jare in Port Elizabeth, as ma van drie, toe ek ’n DJ was.”

Sy het ses jaar lank ’n oggendprogram op Algoa FM gehad. “Ek was Suzy B on Radio Algoa. Ek was cool, jong! Ek het selfs ’n program, Sex Talk With Suzy B, gedoen waar kundiges kom gesels,” lag sy.

As sy nie Suzy B was nie, het sy in die plaaslike teater Shakespeare-produksies opgevoer. “Ek was Portia in Merchant of Venice en Beatrice in Much Ado About Nothing.”

Die lewe het ’n klomp draaie met haar geloop, erken Susanne. “Dis wat die lewe seker opwindend maak. Jy moet altyd goed doen en aanhou doen, dít waarvan jy hou, op die plek waar jy jouself op daai oomblik bevind.”

Haar heel eerste TV-rol was in die reeks Dennekruin 12, toe sy en haar gesin in Johannesburg gewoon het. “Ek en Joanie Combrink was susters gewees. At Botha was my beminde, Paul Eilers my pa, en Marie du Toit my ma. Klomp mense wat al dood is.”

Toe volg Arende 1, Arende 2, Onder draai die duiwel rond, Hart van staal, Soutmansland en vele meer. Ja, Susanne vertel al dekades lank stories op die verhoog, oor die radio en op die groot en klein skerm.

Sy gee ook klas aan die Universiteit Stellenbosch, maar as haar werk klaar is, speel sy ouma vir haar twee kleinkinders.

“O, ek geniet dit. Ons speel, ons kleur in, ons lees boeke en ons lag. Hulle hou my jonk!”