Op 27 Julie 1991 het Suid-Afrikaners die eerste keer kennis gemaak met Johan Stemmet, oud-onderwyser met sy liefde vir musiek, kleurryke onderbaadjies en sêgoed soos “vyftig randjies vir jou”, “kontantnote vir musieknote” en “kyk hoe kyk sy vir my!”. Vandag, 29 jaar en 700 episodes van Noot vir Noot later, is Johan en sy Musiekfabriek as’t ware volksbesit.

SKERMGREEP YouTube

Johan het in Januarie aangekondig hy en sy musiekmakers groet die gewilde SABC2-program. Dit was egter nie die einde van Noot vir Noot nie, het hy belowe. Die program gaan voort, maar sal ’n nuwe aanbieder en (onder)baadjie kry.

As jy nostalgies wil raak, kyk dié episode:

Johan het op sy amptelike Facebook-blad sy aanhangers bedank vir hul ondersteuning oor die jare. 

Noot vir Noot gaan ’n splinternuwe kleed met ’n wenneraanbieder aantrek. Die nuwe Noot vir Noot-formaat sal wyd tref. Daaroor het ek geen twyfel nie,” het Johan geskryf.

SARIE het dit in Januarie voorspel en nou is dit bevestig: Die nuwe aanbieder van Noot vir Noot is ...

Emo Adams!

Emo is nie net ’n talentvolle sanger en komediant nie, hy bied ook reeds vir tien seisoene sy Jou show met Emo op kykNET aan. Tall, dark en handsome met ’n vlymskerp humorsin, is onse Emo.

FOTO Instagram/ Emo Adams

Johan Stemmet het vanoggend op sy Facebook-blad die nuus aangekondig:

“Ons het iemand geteiken wat kan sing, goed beweeg, goed kan aanbied, ’n sin vir humor het, goeie musiekkennis het, ondervinding op TV, ondervinding op die verhoog, iemand wat professioneel en betroubaar is ten alle tye, iemand wat sy gehore respekteer en as gevolg daarvan deur sy gehore gerespekteer word.

“Iemand wat Noot vir Noot na verdere hoogtes met bestaande en nuwe gehore kan neem. Daar is vir my net een persoon wat aan al hierdie vereistes voldoen en wie ek met die heel grootste vertroue as aanbieder van die nuwe Noot vir Noot wil verwelkom. Ek sien so geweldig daarna uit om vorentoe saam met hom te werk ...

“Welkom as aanbieder van Noot vir Noot ... EMO ADAMS!

“Welkom ook aan DJ Shelly, wat die musiek gaan hanteer! Vars nuwe jong dinamiese musikant en pragtige mens wat saam met Emo die nuwe formaat van Augustus af gaan laat kook soos min. Ek is BAIE tevrede en GEWELDIG opgewonde oor wat voorlê!!”