Die toekomstige ma het ’n suksesvolle jaar as ’n werkende koninklike agter die rug, maar dit was nie sonder kontroversie nie!

Kate het, voordat sy met akute oggendnaarheid in die vroeë stadium van haar swangerskap gehospitaliseer is, 111 amptelike afsprake en 36 verskynings in die buiteland gehad. Kate, wat heel moontlik een van die mees invloedryke vroue in die 21ste eeu sal word, was ook saam met William en swaer Harry die ambassadeurs vir die 2012 Olimpiese Spele in Londen. En in dié besige jaar het sy nie ’n modevoet verkeerd gesit nie!

Na alle verwagting sal die swanger Kate se openbare afsprake afneem soos die geboorte nader. Wanneer dít presies is, het Kate en William nog nie bevestig nie, maar daar word geglo die koninklike pienkvoet word teen die middel van die jaar verwag.

Stories doen die rondte dat William rondkyk om ’n huis te koop en dalk net vir Kate vandag wil verras met ’n nuwe wegbreekplek in die platteland. St. James-paleis het bevestig dat sy haar laaste verjaarsdag voordat sy ’n ma word, privaat sal vier – waarskynlik met ’n familie-ete.

Kate se vorige lewensjaar was vol kontroversie. Na haar hospitalisering by die King Edward VII-hospitaal, het Australiese radio-omroepers in ’n foefie-oproep na dié hospitaal betroubare inligting bekom. Die verpleegster waarmee hulle gesels het, het hierna haar eie lewe geneem.

Kate is ook in September 2012 kaalbors afgeneem waar sy op vakansie in die son gelê het. ’n Hofsaak het gevolg om die verspreiding van dié foto’s stop te sit.

Terwyl Kate rustiger word in 2013, sal die res van die koninklikes aanhou werk. Kate se skoonpa, Prins Charles, was die hardwerkendste koninklike in 2012, waar hy ongeveer 480 afsprake en 112 oorsese besoeke gehad het. En die 86-jarige Koningin is nie ver agter nie. Sy het tydens haar 2012-jubileumjaar 425 afsprake gehad!

Ons sien uit na nóg 'n stylvolle jaar saam met Kate – dié keer in kraamdrag.