Ciske Kruger, of liewer Botha, het pas klaar geskiet aan 'n splinternuwe storielyn in 7de Laan wat vroeg in die nuwe jaar op die lug sal wees.

Sy en manlief, Ivan, het al 'n paar keer saamgewerk aan projekte soos Superhelde en Bakgat 1 & 2, maar dis die eerste keer dat hulle saam in die Laan te sien sal wees.

Hoewel haar karakter niks te doen het met Ivan s’n nie, was dit vir die twee heerlik om saam op stel te wees.

Ivan vertolk die rol van Pieter van Heerden.

“’n Mens kry darem kans om tussen ateljeesessies op die dek te gesels oor 'n koppie koffie of saam met akteursvriende oor middagete in die kantien te ontspan,” sê sy.

In hierdie rol moet die kykers hulle glad nie laat flous deur die broosheid van dié fyn donkeroog blondekop nie. Haar karakter, Mariëtte, is 'n baie skerp en vasberade jong vrou – een met 'n verskuilde agenda wat niks goeds beloof vir een van die bekende 7de Laan karakters nie.

Maar om te sien of sy in haar doel gaan slaag, sal jy maar tussen 30 Desember 2011 en 23 Januarie 2012 op SABC 2, weeksdae om 18:30 op 7de Laan moet inskakel.