Kykers kon Bill en Giuliana Rancic se infertiliteitsreis op hul gewilde E! Entertainment-realiteitsreeks, Giuliana & Bill, volg. En nou het 'n nuwe opwindende fase in hul lewens aangebreek. Baba Edward Duke is 10:12 nm op Woensdag 29 Augustus gebore ná 'n surrogaat hul baba vir nege maande gedra het.

"The 'Duke' has landed." Só het Bill hul seun se geboorte op Twitter aangekondig. Bill het die baba se naelstring geknip en Giuliana was die eerste om hom vas te hou.

Giuliana, aanbieder van E! News en Fashion Police asook 'n bekende op Hollywood se rooi tapyte, se stryd teen infertiliteit, 'n miskraam én borskanker het kykers week vir week aangegryp. Bill was die wenner in Donald Trump se reeks, The Apprentice.

Ons kan nie wag vir die eerste foto's nie.