In 1995 het Oupa ná sy Sondagmiddagslapie op die stoep gaan sit en oor die vlaktes van sy Vrystaatse plaas getuur. Oomblikke later verskyn Ouma met hul kleinseun, getooi in 'n gebreide blou truitjie - Ouma se eie handewerk.

"Is hy wakker?" vra Oupa soos hy sy koppie boeretroos neersit.

"Ja, hy's wakker, Oupa," sê Ouma en stoot die babawaentjie nader. 

"My wêreld, Mariaan, laat ons sien. Kom, my seun ... Hallo, jong! Het jy lekker geslaap?" sê die breëbors oupa.

"Mmmm, ek het heerlik geslaap, Oupa," koer Ouma en gaan sit langs hom.

In sy waentjie skater die outjie van vreugde en klap sy handjies saam.

"Sê vir Oupa: 'Oupa'," kom dit van Oupa.

Vroulief val hom in die rede: "Ouma ..."

"Nee ... Oupa."

Kleinseun kyk verward van die een na die ander soos albei sy aandag probeer trek.

"Hy is 'n seuntjie, hy sal eerste sê OUMA," benadruk Ouma.

"Ek sê ek is die oupa ... OUPA."

"Nee, man!" maak sy beswaar en klap Oupa teen die boarm. "Ouma, Ouma, Ouma ..."

Skielik laat die kleintjie dan van hom hoor: "Glug-glug-glug ... Sasol." 

Die waentjie maak brulgeluide soos 'n Formule Een-resieskar en trek met 'n spoed weg.

"Waar gaat hy heen?" vra Oupa bekommerd.

"Ag, seker nie ver nie," stel Ouma gerus.

Dit was 'n gewilde advertensie van Sasol - trouens só gewild dat dit 'n jaar later weer op TV sou draai. Die veteraan-akteurs Tilana Hanekom en Eghard van der Hoven, wat in die regte lewe getroud was, het die rol van Ouma en Oupa vertolk. Albei is ongelukkig reeds in die 2000's oorlede.

Maar wat het van die ougat kleinseun geword?

SARIE word speurder

Op 13 Desember 2017 besluit die SARIE-webspan om die hulp van ons lesers te kry om die Glug-glug-baba op te spoor. 'n Vinnige versoek word op Facebook geplaas. "Ons kort jou hulp: Onthou jy nog die destydse Sasol-advertensie waar die oupa en ouma vir hul kleinseun 'n woord probeer leer? Ons is op soek na daai einste seuntjie. Weet jy wie dit is of wie se kind dit is? Share asseblief, inbox ons en help ons."

Hulp was op Facebook gevra.

Voor jy kon sê waatlemoen, het lesers ons versoek ge-share, ge-like en daarop kommentaar gelewer. Party het vriende ge-tag en sommer reguit gevra: "Dink jy jy sal kan help?" 

SARIE se versoek het soos 'n veldbrand versprei. Dit het 200 000 mense bereik, 1 400 het dit gedeel, meer as 1 000 het kommentaar gelewer en 500 het dit ge-like. Op e-pos het die wenke ingestroom. 

Ná drie dae het ons ons eerste leidraad gekry: Die seuntjie was eintlik 'n dogtertjie! 

Ná nog vyf dae kry ons 'n tweede belangrike leidraad: "Die dogtertjie se regte oupa en ouma is gevind. Hulle bly in Port Elizabeth," skryf 'n SARIE-leser.

Soos blits skryf ons terug: "Jy maak ons dag! Is daar 'n nommer?"

'n Dawerende stilte volg ... Geen antwoord. Tyd vlieg: Kersfees, Nuwejaar, die laaste somermaande, herfs ... Gou-gou het ons en die res van die land van die Glug-glug-baba vergeet.

Of so het ons gedink ...

Op 18 Mei kry ons die boodskap in ons inboks: "Sasol-advertensie se baba is Tayla en haar ma is Colleen Farrell. Groete!"

Gewapen met 'n nommer begin ons bel.

SKERMGREEP YouTube

'Hallo, ek was die Glug-glug-baba ...'

Tayla Farrell was net nege maande oud toe sy die ster van 'n Sasol-advertensie word. En dit was heel toevallig, verklap die 23-jarige van Johannesburg nou.

Sy was saam met haar ma, Colleen, by 'n winkelsentrum toe sy "ontdek" is. "Dis eintlik snaaks! Ek het toevallig die dag my ouer broer se babaklere aangehad. Natuurlik was dit blou. So ek het toe regtig soos 'n seuntjie gelyk," lag Tayla.

'n Paar weke later en die dogtertjie met die blou oë word Ouma en Oupa se kleinseun.

Tayla het regtig ama-glug-glug gesê, maar met "Sasol" is geflous.

"My ma het heuning op haar vinger gehad. Sy het dit op my lippe en tandvleis gesmeer. Ek het toe my lippe gelek en beweeg, daarna het hulle 'Sasol' oorgeklank."

SKERMGREEP YouTube/ Sasol

Ná al die jare kan Tayla steeds nie glo hoe gewild die advertensie is nie.

"Ek het nie eens geweet soveel mense soek my nie," skerts sy. "Gewoonlik glo mense my nie as ek sê dat ek die Glug-glug-baba was. Dit was dan 'n seuntjie, sal hulle dan protesteer ... Selfs my kêrel se familie glo my nie."

Maar haar regte oupa en ouma, Allen en Christine Smith van Port Elizabeth, vertel nou nog die storie oor. 

"Hulle is so trots op my. En sal altyd vir mense sê dat hul kleindogter die Glug-glug-baba is."

Tayla (tweede van regs) saam met haar suster en twee broers. FOTO Verskaf
Die Farrell-gesin. FOTO Verskaf

Tayla werk deesdae as geleentheidsbeplanner by die maatskappy By Word of Mouth. "Ek het vir 'n jaar by die HTA School of Culinary Art studeer om 'n sjef te word."

Tayla is ook sportmal en hou van dans.

"Ek geniet regtig my lewe. Dit gaan goed!"

Kyk hoe groot is die Glug-glug-baba:

FOTO Verskaf
FOTO Verskaf
FOTO Verskaf

SARIE het húlle ook gevind:

Onthou jy nog vir Orkney snork nie se Neelsie? Kyk wat doen hy nou.

Paashaas-seuntjie: Hier's sy roerende verhaal

Orkney se Rieke en Sonja gesels