Op die 7de Mei vanjaar het daar nie net nog 'n winkel in Claremont, Kaapstad, sy deure oopgemaak nie, 'n hele paar werklose mense het nou hoop.

The Feel Good Store is 'n projek van die Foschini-groep in samewerking met Learn to Earn, 'n nie-winsgewende organisasie. Al die klere wat kliënte na die hooftakke terugbring, dié wat as voorbeelde gebruik word of by die fabriek afgekeur word, en selfs oorskotklere, word dan by The Feel Good Store afgelaai. Winkels soos Foschini, Markham, Exact!, Fashion Express, Luella, Donna Claire, Sportscene, Totalsport en Due South het almal deel hierin.

"Dit is seker 'n liefdadigheidswinkel, maar dis een wat terselfdetyd werklose mense help deur opleidingsgeleenthede te skep en vaardighede in die klerebedryf te ontwikkel. Alle winste gaan terug in die winkel, want ons wil hierdie projek selfonderhoudend maak sodat ons dit in ander provinsies ook kan doen," sê Colleen Carstens, hoof van menslike hulpbronbestuur by Corporate Social Investment en kommunikasie in die Foschini-groep.

Learn to Earn fokus daarop om aan werklose mense geleenthede te gee.

"Elke 6 maande sal 'n nuwe groep van 18 mense in die winkel opgelei word. Hulle sal hierna in die groter sektor van die klerebedryf kan werk," sê Susan Wishart, hoofbestuurder van Learn to Earn.