Google se nuwe kaartdiens word vandag (Woensdag 28 Oktober) in Suid-Afrika geloods. Hoewel dié diens al geruime tyd in SA beskikbaar is sluit dit nou baie meer funksionaliteite in soos data oor spesifieke strate, foto's, webkamera-feeds in werklike tyd, pad-aanwysings en meer. Hierdie uitgebreide diens is natuurlik gemik op volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika is een van slegs 30 lande in die wêreld wat hierdie gespesialiseerde diens het en die tweede in Afrika ná Kenia.

Die nuwe diens stel besighede in staat om hul details gratis te lys. Suid-Afrika het ook sy eie tuisblad binne die groter kaartnetwerk. Tik bv. 'n restaurantnaam in en kry resensies, spyskaarte en selfs foto's. Kry ook baie duidelike aanwysings na jou bestemming - of jy nou wil ry of stap. Dié diens is ook op sekere selfone beskikbaar.

Die 'Street View'-diens sal net voor die Wêreldbeker geloods word. Sommige van julle het seker al die Google-motors in jou area sien rondry.