Verlede week het pres. Cyril Ramaphosa in die lig van die Covid-19-uitbreking ’n ramptoestand in Suid-Afrika aangekondig. Skole is gesluit, visums vir reisigers uit hoërisikolande soos Italië, China en Iran opgeskort en openbare saamtrekke van meer as 100 mense verbied.

In tye van ’n ramptoestand kan spesiale regulasies gepromulgeer word. Een hiervan is onlangs gepubliseer in die Staatskoerant: Hoogstens 50 mense mag toegelaat word op ’n perseel waar drank verkoop word en drank mag slegs tussen 9:00 en 18:00 verkoop word*. Dit geld Maandae tot Saterdae. Op Sondae, openbare vakansiedae en vakansiedae wat op ’n Saterdag val, is dit tussen 9:00 en 13:00. Boonop mag geen dranklisensies uitgereik word vir spesiale geleenthede nie.

Hierdie regulasies kan ook vir trou-venues geld. Indien jou troue op ’n plek plaasvind waar drank verkoop word, mag daar nie meer as 50 mense op die perseel wees nie en geen alkohol mag ná 18:00 bedien word nie. 

Oortreders kan beboet word of tot ses maande tronkstraf opgelê word.

Watter scenarios kan uitspeel?*

  • Indien julle op ’n private perseel soos jou huis trou, mag daar nie meer as 100 gaste wees nie en drank mag uiteraard nie verkoop word sonder ’n wettige dranklisensie nie. 
  • Indien julle by ’n venue trou wat drank verkoop, mag daar nie meer as 50 gaste wees nie en drankverkope moet ná 18:00 gestaak word. 
  • Julle moet spesiale higiëniese maatreëls toepas, soos om handreinigers beskikbaar te stel, genoeg spasie tussen gaste toe te laat, geen vingerhappies te bedien nie en voldoende stasies te verskaf om hande te was. 
  • Indien moontlik, oorweeg dit om die troue uit te stel tot die ramptoestand opgehef word. 

Omdat Covid-19 oorgedra kan word voordat mense simptome wys, is dit raadsaam om sosiale afstand toe te pas ten einde sover moontlik te verseker dat die virus nie onder jou gaste versprei nie. 

Raadpleeg jou prokureur of ander regskenner vir advies en om vas te stel watter implikasies die ramptoestand vir jul troue kan hê en watter stappe julle moet doen om seker te maak dit is wettig én veilig vir jul gaste. 

Laai die Staatskoerant hier af.

* Hierdie artikel is aangepas nadat Bheki Cele, minister van polisie, uitgeklaar het dat eetplekke steeds kan oopbly ná 18:00, mits geen alkohol bedien word nie. In ’n vroeër weergawe van die artikel is gesê alle persele wat alkohol verkoop, moet hul deure sluit ná 18:00.