Ons het lanklaas vir Yvonne van den Bergh op die kassie gesien. Sy en haar man, Jacques du Preez (destyds aanbieder van Geraas), bly in Johannesburg.

Sy's terug! Die wulpse prokureur Chloe Breedt van kykNET se Vallei van Sluiers gaan in die derde seisoen van dié gewilde reeks terugkeer. Maar wat gaan sy dié keer aanvang? Ons gesels met die aktrise Yvonne van den Bergh oor dié rol.

Chloe is intussen van haar man, Luke, geskei en keer terug Suid-Afrika toe vir werksredes (sy het Suid-Amerika toe gegaan in die vorige reeks). Nou is sy ’n vennoot in die grootste prokureursfirma op Ceres. Nie net is sy weer in ’n bekende omgewing nie, maar sy is ook weer op haar geliefde plaas en by haar perde.

SARIE.com gesels met die aktrise Yvonne van den Bergh wat dié rol vertolk.

Waarna sien jy die meeste uit met jou terugkeer na Vallei van Sluiers?

Eerstens om saam met regisseur Elizabeth Archer te werk. Sy is een van daardie regisseurs wat ’n baie duidelike visie het van wat sy wil hê én die vermoë en welsprekenheid het om dit oor te dra. Sy is een van die beste regisseurs saam met wie ek al ooit gewerk het.

Tweedens die ander spelers en die tegniese span. Dis lekker om terug te keer na ’n gerieflike en bekende omgewing, met só ’n great span en professionele akteurs. Dit voel byna soos familie.

Derdens die plekke! Die pragtige Kaap, Ceres, Wolseley, ens. Dis vreeslik lekker om in sulke pragtige omgewings te skiet.

Is dit ’n uitdaging om Chloe te speel?

Ek is glad nie ’n flirt nie - al lyk ek dalk soos een! Daarom is dit vir my moeilik om die man eater te speel. Uiteraard het my karakter dan ook baie liefdestonele. Dit is nie die maklikste deel van my werk om op kamera te soen en so aan nie, maar ek is eintlik al gewoond daaraan ... ek moet in elke reeks waarin ek speel met iemand in die bed spring!

Wat gaan Chloe dié keer aanvang?

Ek kan ongelukkig nie in detail vertel nie, want dan gaan ek van die storie weggee. Maar ek kan vir jou sê dat ek op ’n stadium die mees gehate vrou in die land gaan wees...

Dink jy Chloe het verander?

Ek dink sy het verander. Of ten minste, sy wou verander. Maar omstandighede en ’n spesifieke persoon laat haar weer terugkeer na haar ou streke...

Met watter internasionale karakter sal jy haar vergelyk?

Dalk Glenn Close in Fatal Attraction? Omdat my karakter, Chloe, net nie kan wegbly van verhoudings en situasies wat nie goed is vir haar nie - iets wat net op ’n ramp kan afstuur.

Hoe verskil jy en Chloe?

Soos ek reeds genoem het, is ek glad nie ’n flirt nie. Ek sal nooit in iemand anders se slaai krap nie en nooit my man verneuk en iets skelms agter sy rug doen nie. Dís die grootste verskil tussen ons.

En wat het julle gemeen?

Sy is baie ambisieus en is lief vir haar werk. Ons het dít gemeen. Sy het ook goeie werksetiek en is baie passievol oor haar werk.

Wat is jou gunsteling-herinnering van Vallei van Sluiers?

In die eerste seisoen was daar ’n Januarie-dag wat dit uitsonderlik warm was te midde van ’n hittegolf. Ons het op Chloe en Luke se plaas geskiet. Byna die hele span het daardie dag in die swembad gespring! Gelukkig was Chloe as't ware die hele dag in die swembad.

Dié dag was soveel pret. So tussen die swetery deur en grimering wat konstant weer aangewend moes word.

Yvonne en haar man, Jacques du Preez. Sy gesels oor haar "nie-ideale, perfekte man" in SARIE 

183077_10151634566656410_2001034751_n Yvonne & Jacques (FOTO: Facebook)

971778_611239315587312_1990109218_n Yvonne & Jacques (FOTO: Facebook)

Nóg oor Yvonne op SARIE.com