Een van die grootste geskenke wat prinses Diana sekerlik aan haar twee seuns kon gee, was ’n liefde vir Afrika. Dis die één kontinent waar hulle vry kan asemhaal. Dis ook hier waar hulle baie na aan hul ma voel en haar goeie werk kan voortsit en nuwe hoop vir mense kan gee wat dit so broodnodig het.

As ’n mens luister na Katie Nicholl, skrywer van die nuwe boek William and Harry (Random House Struik, R215), toor Afrika met die prinse se siele. Katie was deel van ’n media-span wat die prinse onlangs op ’n agt dae lange reis deur Lesotho, Botswana, Mosambiek en Suid-Afrika vergesel het.

Katie is nie sommer so ’n joernalis nie. As skinderskrywer en koninklike verslaggewer vir dieMail on Sunday word sy gereken as van die beste op haar gebied. Haar blog oor celebs word deur 5 miljoen mense wêreldwyd gelees en sy’s ’n gereelde kommentator op Britse en Amerikaanse TV-kanale. Sy het agt jaar lank navorsing gedoen vir haar boek oor die prinse en dit toe eindelik binne agt maande geskryf.

“Ek het gesien hoe hulle verander het van versigtige tieners in verantwoordelike jong mans wat passievol is oor hul loopbane en liefdadigheidsprojekte,” skryf sy in haar voorwoord.

William en Harry se Afrika-reis het lekker saamgeval met die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

“Ek het saam met hulle op die paviljoen in Kaapstad gesit en kyk hoe Engeland met 0 – 0 gelykop speel teen Algerië,” vertel Katie terwyl ons in ’n koffiewinkel in die stad gesels.“Wát ’n teleurstelling! Hulle het die span daarna gaan moed inpraat in die kleedkamer.” (Ongelukkig het dit nie gehelp nie en Engeland is met 4 – 1 deur  Duitsland uitgeskakel.)

Maar die twee koninklikes se Suider-Afrika-toer het oor veel meer as plesier gegaan. Harry is onder meer na die Sentebaleweeshuis in Lesotho. Dis in 2005 op sy inisiatief gestig vir weeskinders en kinders wat MIV-positief is.

Die rooikop-prins het in 2004 sy hart op Lesotho verloor toe hy ’n gedeelte van sy gap-jaar daar deurgebring het. Skielik, gereed met tuisgemaakte kos. Sy noem hom Big Willy. Baie mense sê sy is vervelig, maar ek het haar al in klubs in Londen gesien waar sy ’n paar drankies kon wegslaan. Tog is sy baie verantwoordelik. Sy besef sy durf haar nooit wangedra as die moontlike vrou van die toekomstige koning van Engeland nie.”

Katie glo wel prins Charles sal nog voor William koning word. Miskien oor tien jaar . . .
“Ek dink nie William wil soseer koning van die land word nie, maar hy het hom versoen daarmee dat hy tweede in die ry staan as troonopvolger. Hy is ernstig en na my mening ’n juweel van die huis van Windsor.

 

Ek dink nie William wil soseer koning van die land word nie."

 

“Die hiërargie tussen die prinse is baie duidelik. William is die ouer boetie. Onlangs in Botswana, toe Harry met ’n groter luislang as hy gespeel het, het hy dadelik gespot: ‘Nee, Harry, ouboet kry die grootste slang.’ Hulle is baie goeie maats. Maar William is grootgemaak om Engeland uiteindelik te regeer. Harry was altyd die ‘spaarwiel’.”

Diana het ook per geleentheid gesê: “William is very much an organizer, which probably might be useful in future years. . . Harry is more quiet. He’s certainly a different character altogether.”

Katie praat met groot empatie oor Harry.

“Dit kon nie vir hom maklik gewees het toe hul oumagrootjie, die koninginmoeder, kleintyd altyd vir William gevra het om by haar in Clarence House te kom kuier en Harry maar by die huis moes bly nie. Maar uiteindelik het Harry ontwikkel in die snaakse een, die charmer, Jack the Lad. Hy is eintlik my gunsteling van al die koninklikes omdat hy met sy hart op sy mou rondloop.”

Dís waarvoor die blonde bom Chelsy Davy geval het toe hulle mekaar in 2004 weer raakgeloop het. (Harry het haar terloops reeds vroeër, toe sy in haar finale jaar in Stowe School in Londen was, ontmoet.) Sedertdien is hulle smoorverlief, maar hulle het ook ’n paar keer hul verhouding verbreek. Op die dag dat ons met Katie gesels, breek die nuus juis weer dat hulle uitgemaak het.

Chelsy, ’n miljoenêrsdogter wat in Zimbabwe gebore is, spog met ’n regsgraad van die Universiteit van Kaapstad.

“Die wonderlike ding van Chelsy is dat sy nooit beïndruk was daarmee dat Harry ’n prins is nie,” sê Katie. “Sy kom uit ’n baie welgestelde gesin. Haar pa het vir haar ’n woonstel van sowat R16,5 miljoen in

 

“Afrika bly vir William en Harry magic!”

Londen gekoop. Ek het al ’n paar keer saam met haar gekuier. Sy is mal oor dans en is ’n partytjiedier, maar sy is ook baie slim. Sy en Harry is ’n uitstekende kombinasie. Hulle laat mekaar lag. Sy is ongelooflik selfversekerd. Chelsy verpes die paparazzi, terwyl Kate hulle effens fassinerend vind, hoewel ’n bietjie afstootlik.

Dit lyk asof Chelsy nou Zambië toe gaan trek, waar haar ouers woon. ’n Langtermyn-verhouding sal natuurlik komplikasies skep vir haar en Harry, wat ’n militêre loopbaan gekies het en in Brittanje moet aanbly. Maar hulle was al so baie in en uit. Ek weet nie of dit hierdie keer miskien finaal is nie. Ek hoop hulle kan iets uitwerk.”

Die prinse het nog nie haar hele boek gelees nie, maar wel ’n paar uittreksels.

Hulle was baie verras dat ek een van prins William se eerste liefdes, Carley Massy-Birch, opgespoor het. Hy het haar ontmoet toe hy hom in September 2001 aan St.Andrews, een van die oudste universiteite in Skotland, vir ’n graad in kunsgeskiedenis ingeskryf het.”

Carley se derrière is destyds as die aantreklikste by St.Andrews beskou, maar sy het gedink Wills het vir haar geval omdat sy ’n tipiese plattelandse meisie was, sonder pretensie.

As sy saans vir hom gekook het, het hulle toneelstukke en letterkunde bespreek, het sy vir Katie vertel.

Maar toe, in 2002, het William vir Kate by ’n modeparade vir liefdadigheid raakgesien, en hulle is nou nog by mekaar.

Intussen het byna ’n dekade verbygegaan.William het op 21 Junie 28 geword en Harry word op 15 September 26.

Prinses Diana se koninklike seuns het grootgeword, maar soos Katie opnuut besef:"Afrika bly vir William en Harry magic!"

Katie oor Clooney en Madonna . . .

Katie Nicholl wou eers ’n oorlogskorrespondent word. “Maar toe begin ek in 2001 by die Daily Mail werk en dinge gebeur net. Só beland ek op ’n paar glanspartytjies en ontdek ek het nogal ’n talent om met mense te meng en kontakte te kry. Die wêreld van showbiz het voor my ontvou.

“Ek het seker al met die meeste glanspersoonlikhede in die bedryf gepraat. Angelina Jolie, Brad Pitt, J-Lo . . .

Maar ek werk sewe dae per week, omtrent 24 uur per dag. Baie van my kontakte moet ek soos goud oppas en byna soos vriende behandel. Soms geniet ons Sondagmiddagetes saam en dan is daar ’n groot oorvleueling tussen werk en plesier.”

Met Madonna het sy ook al gepraat. “Sy is in beheer. Sy weet presies wat sy wil hê en jy kan nie anders as om haar te bewonder nie.”


George Clooney is glo net so oulik soos wat hy lyk: “So ordentlik – hy sal altyd op partytjies na ’n mens toe kom om te groet. Hy is lieflik,” vertel Katie.

“Op 22 was ek maar ster-verskrik. Die aktrise Joan Collins (wat nes my ma lyk) het toe vir my gesê ek moet asseblief aan ’n minder vervelige vraag dink as ek haar weer sien. Ek hét, en ’n paar jaar ná ons eerste ontmoeting het sy sowaar vir my ’n scoop gegee.”