Die verskillende lande in Europa het talentsoekers wat oor die wêreld na talentvolle mense soek om hul land te verteenwoordig in dié gesogte kompetisie. Heinz is op ’n kortlys om vir Switserland deel te neem. Uit die magdom inskrywings word die top-14 gekies om dan op 10 Desember 2011 die liedjie wat hulle ingeskryf het, te sing. Dit word regstreeks op Switserse TV uitgesaai. Daardie top-14 word bepaal deur stemme en ’n paneel van beoordelaars gekies, en hulle sal na die volgende ronde van Eurovision deurdring.

Heinz het spesiaal ’n liedjie geskryf vir die wedstryd. “'Who you really are' gaan oor hoe liefde vir jou vrou jou in staat stel om haar op 'n dieper vlak te ken en haar te sien vir die engel wat sy regtig is,” vertel Heinz.

Hy glo Idols het hom tot ’n mate voorberei op so ’n groot kompetisie soos Eurovision. “Daar is baie elemente wat ooreenstem, soos dat dit regstreeks uitgesaai word. Maar ek wil nie te veel daarop staat maak nie. Ek verwag dat dinge anders gaan wees en ek sal aanpasbaar moet wees.”

Om ’n internasionale loopbaan te hê is vir Heinz ’n groot droom. Op die vraag of hy ooit oorsee sal gaan woon, antwoord hy dat dit baie moeilik is om nou te antwoord. “Dit hang maar van 'n klomp dinge af. In 'n ideale wêreld sal ek graag in SA bly en rondreis soos dit nodig is. Die uitdaging sal wees om my gesin so min as moontlik te ontwrig - ek vertrou die Here vir baie wysheid wat dit betref.”

Jy kan help om Heinz se droom waar te maak deur vir hom te stem voor 31 Oktober 2011. Klik hier om te registreer om te kan stem, en volg dan hierdie skakel om vir Heinz te stem. Klik Alle video’s en soek dan vir Heinz se video, klik op sy inskrywing en rol af tot by absenden (Duits).

Vir die toekoms het Heinz groot planne. “Ek sal volgende jaar DV 'n nuwe album skryf en uitreik, en ek werk ook al hoe meer agter die skerms as vervaardiger vir opkomende kunstenaars wat ek in my werksessies vir aspirant-sangers ontmoet.

Kyk hier na Who you really are, die liedjie wat Heinz ingeskryf het: