SARIE se kosredakteur en skrywer van Voorskoot, Herman Lensing, en kykNET-Kokkedoor se Marinda Engelbrecht vermaak gehore met hul insiggewende verhoogstuk VOORSKOOT & Lipstiek.

Marinda en Herman is koskenners en -liefhebbers uit eie reg. Dít is net twee van die bestanddele wat hierdie teaterproduksie uniek maak. Voeg Marion Holm se teks en regie in die pot en jy het ’n vuurwarm produksie wat kook.

Dié produksie het al by die Woordfees gespeel én is by vanjaar se KKNK* te sien.

Kos is nie net ’n tema van VOORSKOOT & Lipstiek nie, daar word ook ’n driegang-maaltyd op die verhoog berei! Maar ’n kosdemonstrasie is dit ook nie. Dis ’n volwaardige teaterproduksie met ’n weldeurdagte storielyn.

VOORSKOOT & Lipstiek

VOORSKOOT & Lipstiek vertel die verhaal van Arnold (Herman) wat van die stad af kom om saam met sy ma, Elza (Marinda), ’n koningsmaal te berei. Hy weet nie waarom sy ma hierdie feesmaal wil kook nie. Terwyl hulle besig is om te kook, praat hulle oor hul kinderjare, die vernuwing in die koswêreld, die invloed van TV-kosprogramme, asook die rol van kos in hul lewens en hoe dit hulle gevorm het.

Dit stuk is vol raakvat sêgoed en wyshede soos: “My kind, ’n mens wat nie respek het vir kos nie, het ook nie respek vir homself nie.”

Resensent Mariana Malan van Die Burger skryf: “Dis die eerste keer dat Lensing sy lyf akteur hou. Hy is eintlik bekend as kosskrywer. Maar hy steek nie af by die veel meer ervare Engelbrecht nie. Die twee is so tuis saam dat jy werklik kan glo hier is ma en seun aan die kook. Al is liefde vir kook ver van jou, verstom jy jou aan mense wat resepteboeke lees, en al het jy nie ’n verhouding met kos nie, gaan hierdie stuk jou gryp en nie los nie.”

*VOORSKOOT & Lipstiek speel daagliks om 09:00 by vanjaar se ABSA KKNK. Bespreek jou kaartjie by www.computicket.com.

SARIE is ook dié jaar weer terug by die KKNK - lees meer hier!

VOORSKOOT & Lipstiek

Herman en Marinda praat oor hul verhoogstuk op kykNET se Bravo! Kyk hier: