Het jy die afgelope naweek die nuus vermy? Of gedetoks van sosiale media? Dan het jy dalk hierdie drie wat-op-aarde-oomblikke (WOA) gemis.

Eerste WOA-oomblik

Serena Williams en daai skeidsregter

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die Amerikaanse Ope-tenniseindstryd tussen Serena Williams en Naomi Osaka het vir ’n paar dramatiese oomblikke gesorg. Nie net het Serena haar raket gebreek nie, sy het ook met die skeidsregter, Carlos Ramos, baklei en is agterna beboet. Naomi het die wedstryd gewen en so die eerste Japanse speler geword wat ’n Grand Slam-titel wen. Maar wat het Serena se uitbarsting veroorsaak?

1. Afrigtingsoortreding: Die skeidsregter sien hoe Serena se afrigter, Patrick Mouratoglou, vir haar iets beduie. Hy waarsku Serena, maar sy ontken dit en eis ’n verskoning omdat hy suggereer sy kul. Haar afrigter erken ná die wedstryd hy het dit wel gedoen.

2. Raketgooi-insident: Ná die stryery met die skeidsregter en ’n dubbelfout gooi Serena haar raket so hard op die baan neer dat dit breek. Die skeidsregter straf haar met ’n punt omdat dit teen die reëls is.

3. Verbale aanval: Serena noem die skeidsregter ’n dief omdat hy ’n punt van haar gesteel het. Die skeidsregter beskuldig haar van verbale mishandeling en straf haar met ’n pot.

Die skare het Naomi tydens die trofee-oorhandiging gejou. Toe Noami saggies begin huil, het Serena die skare gevra om op te hou.

Tweede WOA-oomblik

Aanhangers verwyt Ariana Grande oor ekskêrel se dood

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Die Amerikaanse kletsrymer Mac Miller is die naweek dood, vermoedelik weens ’n oordosis dwelms. Hy was net 26 jaar oud. Mac en die popsanger Ariana Grande het twee jaar lank uitgegaan, maar sy het hom vroeër vanjaar gelos. Kort daarna het sy aan die Saturday Night Live-ster Pete Davidson verloof geraak. Nou verwyt Mac se aanhangers haar op haar Instagram-blad.

"Ek hoop jy's nou gelukkig ...", "Dis jou skuld dat hy dood is", en "Jy verdien als wat sleg is ..." is net van die nare goed wat mense sê. Dit het naderhand so erg geraak dat Ariana haar blad vir kommentaar gesluit het.

Ariana Grande het gister 'n foto van haar eks-kêrel Mac Miller gedeel. FOTO Instagram/ Ariana Grande

Derde WOA-oomblik

Kletsrymers Cardi B en Nicki Minaj baklei soos kat en hond

FOTO'S Instagram

Ons is nie seker wat hier gebeur het nie. Maar Cardi B het mede-kletsrymer Nicki Minaj aangevat oor ’n storie wat sy glo versprei het. Die kloue het uitgekom en Cardi het Nicki by ’n geleentheid tydens die New York-modeweek met ’n skoen gegooi. Sekuriteit het Cardi B uit die gebou verwyder.

Kyk die kopkrap-video* hier:

* Bevat kru-taal