Emari Gieselbach, ’n 35-jarige kunsonderwyseres van Centurion, is vandag in Pretoria as die 10de SARIE Voorbladgesig aangewys. Sy verskyn op die voorblad van SARIE se gesogte Oktober-uitgawe – nie een keer nie, maar vier keer!

Michélle van Breda, redakteur van SARIE, het met die aankondiging van die wenner bekend gemaak dat vier voorblaaie van Emari tegelyk vanaf 24 September op die die rak sal verskyn – ’n eerste vir SARIE. Lesers kan eenvoudig hul gunsteling, of meer, koop.

SARIE se Oktober-voorblad
SARIE se Oktober-voorblad
SARIE se Oktober-voorblad
SARIE se Oktober-voorblad

“Soveel mooi gesigsuitdrukkings, soveel mooie voorblaaie. Emari se vier voorblaaie verskil effens van mekaar, maar saam wys dit haar veelsydigheid, haar speelsheid en gemak voor die kamera. Sy het werklik die SARIE-fotosessie haar eie gemaak. Jy kon haar net nie miskyk nie!”

Die 25-jarige Kaapse sekretaresse en een van ’n tweeling, Charicke Carolus, is die wenner van die kategorie 18-30. Emari het die 31+-kategorie gewen.

Charicke Carolus

Die glans-lentegeleentheid is by The Greenhouse Café op die plaas Rosemary Hill buite Pretoria gehou. Dit is bygewoon deur 200 gaste, onder wie Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green, wat op SARIE se September-voorblad verskyn, en talle sepie-, televisie-, rolprent- en musieksterre. Verlede jaar se twee SARIE Voorbladgesig-wenners (hulle het die titel gedeel), die patisseriesjef van Ceres, Yolani Abrahams, en Nadia de Wet, boervrou van Standerton, het ook die oggend bygewoon. Elana Afrika-Bredenkamp, TV-persoonlikheid en Jacaranda-radio-omroeper, was die seremoniemeester.

Die geleentheid is vir televisie verfilm en sal deel uitmaak van die slotepisode van die program SARIE Voorbladgesig wat op Dinsdag 25 September om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Kykers sal dan kan sien hoe Emari haar Oktober-voorblad losslaan. TV-aanbieder Robbie Kruse en ’n span van die kykNET-leefstylprogram Bravo! het ook dele van die oggend opgeneem vir latere uitsending.

Emari is uit duisende inskrywings van oor die land gekies ná ’n intense voorbladfotosessie deur die bekende Johannesburgse fotograaf Leana Clunies-Ross. Oor die 2018-wenner het Michélle gesê: “Emari is ’n interessante mengsel van klassiek en modern: ’n bietjie Marilyn Monroe en Audrey Hepburn saam met ’n tikkie Michelle Williams, die Hollywood-ster bekend vir haar kort, blonde hare en funky voorkoms. Maar op die ou end is sy Emari – sterk, snaaks, sensueel, energiek, ’n SARIE-leser – perfek vir die Oktober-voorblad!”

Emari Gieselbach

Louise Williams, hoofbestuurder van Bacher and Co., die verspreider van Montblanc (die hoofborg van die 2018 SARIE Voorbladgesig), het ná die tyd gesê: “SARIE is ’n inspirerende tydskrif vir inspirerende vroue. Vir ons is dit ewe inspirerend om te sien hoe vroue van reg oor die land – van klein dorpies tot groot stede – inskryf vir hierdie wedstryd. ‘Gewone’ vroue, lesers van die tydskrif. Dit vat guts, en ons salueer hulle. Ons ondersteun hulle 100%!”

Dit is die agtste jaar dat SARIE die wedstryd, uniek in die land, aanbied. (In 2016 en in 2017 is die titel gedeel, vandaar die 10 wenners tot nou.) Dit is ook die tweede jaar dat kykNET kykers saamneem op die Top-10 se voorbladreis.

Emari gee kuns by die Sutherland High School in Eldoraigne, Centurion, en is die ma van twee dogters. Haar 11de huweliksherdenking is om die draai en sy en haar man, Marinus, beplan om nog dié maand by die Graceland Wedding Chapel in Las Vegas hul huweliksbeloftes te hernu.

Charicke is een van ’n tweeling en glo elke vrou is ’n voorblad werd. Sy het aan die Hoërskool Monumentpark in Kraaifontein gematrikuleer en is tans ’n sekretaresse by ’n Kaapse regsfirma. Haar droom is om die wêreld vol te reis en om ’n sukses van ’n modelloopbaan te maak.

* SARIE Voorbladgesig 2018 is geborg deur Montblanc Lady Emblem-parfuum (hoofborg), die haarsorgreeks INOAR, die skoonheidsakademie Isa Carstens, die velsorgreeks Kalahari, kykNET, Instax-kitskameras en Rosefield-horlosies. Die twee kategoriewenners stap elkeen weg met ’n kontantprys van R10 000. Maar die gróót prys, SARIE se Oktober-voorblad, is vanjaar Emari s’n!