Schané Venter, ’n 27-jarige bedryfs- en logistieke bestuurder wat vir die Mej. SA-organisasie werk, is vanaand tydens ’n glansgeleentheid in Kaapstad as SARIE Voorbladgesig 2019 aangewys.

Die Oktober-uitgawe van SARIE, met ’n stralende Schané van Alberton op die voorblad, sal van Maandag 23 September landwyd op die winkelrakke wees.

SARIE se Oktober 2019-uitgawe
SARIE se Oktober 2019-uitgawe

“Schané is ons 11de wenner en die feit dat sy in SARIE se 70ste bestaansjaar wen, maak dit nóg meer spesiaal. Sy is ons SARIE70-wenner!” het SARIE-redakteur Michélle van Breda tydens die aankondiging gesê.

“Alles omtrent Schané is modern – haar voorkoms, haar ingesteldheid. Sy verteenwoordig in vele opsigte vandag se SARIE-leser en die SA vrou: onafhanklik, vooruitdenkend, positief, ingelig, ’n regte go-getter. Haar lyftaal sê dié inspirerende vrou gaan nie sommer gekeer word nie. Dít is ’n belangrike boodskap in SA vandag waar vroue veg om sonder vrees, oordeel of intimidasie hul persoonlike en professionele ideale te bereik,” het Michélle beklemtoon.

Dit is die tweede keer dat Schané aan die SARIE Voorbladgesig-wedstryd deelneem. Sy het ook in 2015 ingeskryf, maar dié keer kon die beoordelaars haar nie miskyk tussen die duisende inskrywings om die Top-10 te haal nie. “Wie kan daardie breë Julia Roberts-glimlag weerstaan!” het Michélle gesê.

Schané, wat matriek aan die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton geskryf en ’n graad in BCom-bemarkingsbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus behaal het, sê haar jare van deelname aan gimnastiek het haar gevorm en ’n dissipline geleer wat sy gereeld in haar lewe toepas: Probeer altyd nog één keer! Sy hét, en wen toe SARIE se gesogte Oktober-voorblad.

“Ek ken SARIE vandat ek ’n klein dogtertjie is en het nog altyd die voorblaaie bewonder. Gesigte wat met my gepraat en my geïnspireer het. Ek wóú een van daardie gesigte wees,” het Schané op haar inskrywingsvorm geantwoord oor waarom sy inskryf vir SARIE Voorbladgesig – tans die land se grootste tydskrifwedstryd met byna 65 000 inskrywings wat oor die afgelope nege jaar ontvang is. 

Die geleentheid is deur talle bekendes bygewoon, onder wie die sanger Bobby van Jaarsveld, heelparty akteurs van die gewilde sepie Suidooster, asook die akteurs Elsabé Daneel, Tim Theron, Amalia Uys en Gideon Lombard, top- internasionale model Katryn Kruger en bekende SA model Marciel Hopkins, sowel as Bravo!-aanbieder Hannes van Wyk. 

Die aand het ook behoort aan die tien vorige SARIE Voorbladgesig-wenners, onder wie regs- en sake-gegradueerdes, onderwysers, ’n binneversierder, TV-sjef, transformasie-beampte en grafiese kunstenaar. Hulle is Alrie Velleman (2011), Tana van Rooyen (2012), Marike Nel (2013), Monique Brits (2014), Carlize Earle (2015), Elmaré Schutte en Nicola Smith (hulle deel die titel in 2016), Nadia de Wet en Yolani Abrahams (hulle deel die titel in 2017), en 2018 se wenner, Emari Gieselbach.

“Dit was die eerste keer dat al ons wenners bymekaar was, wat die 2019-geleentheid so besonders gemaak het. As jy na die 11 wenners tot nou kyk, die diversiteit en kaliber van SARIE se lesers, en die wete dat daar nog duisende sulke lesers daar buite is, plaas dit vir seker die kollig op SARIE as ’n inspirerende en dinamiese SA handelsmerk. Dit maak my trots!” volgens Michélle.

*SARIE Voorbladgesig 2019 is geborg deur Jimmy Choo Parfums, INOAR, die Isa Carstens Akademie en Kalahari. Die aand is deur kykNET se glansjoernaalprogram Bravo! opgeneem.