Wat het jou laat besluit om gewig te verloor?

Ek het verlede jaar 10kg afgeskud, maar toe begin ek weer al hoe minder oefen en lekkerder eet. Ek het byna die helfte daarvan weer opgetel! Daarom is ek eintlik kwaad vir myself, want as jy nie oefen nie, voel jy nie positief nie en eet sommer net agter die lekkerte aan. Ongelukkig is my liggaam so saamgestel dat ek baie gesond moet eet en hard moet oefen om 'n lae gewig te handhaaf.

Volg jy 'n spesifieke eetprogram?

Ek eet ses gesonde maaltye 'n dag, maar ontneem myself nie van sekere kosse nie. Ons almal weet wat maak vet, en daardie kos probeer ek net een keer 'n week eet. En dit help ook nou nie jy maak 'n slaai met olywe, avokado, kaas én olyfolie nie. Dis te veel vet! Só gaan jy nie maer word nie.

Só het Andriëtte die eerste keer 10 kg verloor

Wat is die moeilikste om by dié plan te hou en hoe oorkom jy dit?

As ek op toer is, is dit moeilik om dié plan te volg. En 'n schnitzel met sous lyk vir my soveel mooier as 'n hoenderslaai. Dit is veral moeilik om by restaurante die gesonder keuse te maak.

Wanneer ek dan wel ongesond eet, kies ek kleiner porsies. Ek herinner myself dat sodra ek by die huis is, ek weer gesond gaan eet. Ek begin ook nie eers peusel by partytjies nie, want ek weet ek gaan ná die eerste hap nie kan ophou nie! Ek wag eerder vir die hoofmaaltyd.

verskaf_26_08_2013_1_300wHet jou siening oor kos verander?

As jy jonk is, dink jy nie logies oor dieet nie. Jy wil net so gou moontlik gewig verloor, al beteken dit drie appels 'n dag! Vandag is ek bewus van alles wat jou liggaam nodig het en hoe gevaarlik dit vir jou gesondheid is as jy te min eet en nie die regte voedingstowwe kry nie. Dit is veral belangrik dat jy gesond en genoeg eet as jy oefen. Jy moet jouself nóóit uithonger nie. Dís ongesond en jy gaan jou op 'n dag wil doodeet omdat jou liggaam honger is.

Verloor gewig saam met Andriëtte

Hoe gereeld oefen jy en wat doen jy?

Ek probeer vier keer 'n week saam met 'n persoonlike afrigter oefen. Ek doen funksionele oefening en crossfit. As ek nie saam met hom kan oefen nie, doen ek kardiovaskulêre oefening of gaan stap 'n ver ent. Hoe motiveer jy jouself? Ek sê net vir myself dat as ek nie my bas lig en iets aktief gaan doen nie, gaan ek nie begin beter lyk nie. Dit help nie ek sit op die bank en drink hot chocolate terwyl ek kla dat ek gewig optel nie. Staan op en gaan oefen en kom terug - dan het jy weer nuwe motivering om gesond te leef en te eet.

Al het ek weer gewig opgetel, kan ek dit verloor. I am not fat, I have fat!

Ek het ook op Twitter gesê ek wil weer gewig verloor. Omdat ek dít gedoen het, moet ek dit nou deurvoer - en ek gaan!

Wat inspireer jou?

My ma en oumense wat nog vol lewe is. Ook goeie musiek en ingeligte mense.

Een jaar later: Só bly Andriëtte Norman op haar doelgewig

Wat is jou definisie van styl?

Gemak, maar dit moet jou figuur vlei. Én die manier waarop jy dit dra moet aandag trek, nie hoe kleurryk dit is of hoeveel juwele jy dra nie! Styl is iets wat van binne kom.