’n Nuwe hofsaak ondersoek die vorige musiekkontrakte van Rodriquez, die ster van die dokumentêre prent Searching for Sugar Man, in ’n poging om die geld wat die kunstenaar uit CD-verkope in Suid-Afrika moes ontvang het, op te spoor, berig The Guardian.

Die bekroonde Searching for Sugar Man het in 2012 die lewensverhaal van die Amerikaanse musikant Sixto Rodriguez vertel. In Amerika het hy in die duisternis verdwyn, maar in Suid-Afrika het sy sielvolle folkmusiek legendaries geword.

Sy albums Cold Fact (1970) en Coming from Reality (1971) het ongeveer ’n halfmiljoen kopieë in Suid-Afrika verkoop. Tog het Rodriguez eers jare later hiervan uitgevind. Hy het nooit die tantième van dié verkope in Suid-Afrika ontvang nie.

Een van sy vorige vervaardigers, Gomba Music in Michigan, het die produksiemaatskappy Clarence Avant gedagvaar omdat hulle glo eersgenoemde se ooreenkoms met Rodriguez probeer omseil het.

Volgens Gomba se hoof, Harry Balk, het Rodriguez in 1966 ’n vyfjaar- liedjieskryfkontrak met hom gesluit en het Clarence tydens dié 5 jaar probeer om sekere van sy liedjies aan ander kunstenaars toe te skryf. Hoewel Gomba slegs vir Clarence daarvan aankla dat hy met die kontrak ingemeng het, sal die inligting wat hieruit kom help om Rodriguez se verlore geld op te spoor.

Rodriguez is glad nie betrokke by die saak nie, maar volgens New York Times het sy prokureur gesê dat hy graag sal wil weet waarheen dié geld gegaan het .

Avant het gesê dat hy graag die saak buite die hof wil afhandel en dat die blaam onnodig op hom val. "Dit pla my regtig dat ek hierdeur moet gaan terwyl ek die een is wat in Rodriguez geglo het," het hy aan Deloit Free Press gesê.