Charlize Theron as die wrede koningin in Snow White and the Huntsman, Julia Roberts as nóg 'n bose koningin in Mirror Mirror in nóg 'n Sneeuwitjie-sprokie. Twee weergawes van een sprokie.

Hollywood se voorliefde vir sprokies die afgelope tyd het begin met Tim Burton se suksesvolle Alice in Wonderland in 2010. Red Riding Hood, vervaardig deur Leonardo DiCaprio en met Amanda Seyfried in die hoofrol, is 'n donker verwerking van die bekende Broers Grimm-sprokie en het verlede jaar die lig gesien.

Ander projekte wat wag om die grootskerm in 2013 te tref, is Hansel & Gretel: Witch Hunters en Jack the Giant Killer. Enchanted 2, Pan is in produksie en het 'n interessante kinkel – Peter Pan is 'n ontvoerder en Captain Hook is die polisieman wat hom jaag.

'n Nuwe weergawe van Beauty and the Beast met Emma Watson van Harry Potter-faam is op pad asook 'n Tim Burton-verwerking van Pinocchio met Robert Downey Jr in die hoofrol.

Die heel nuutste sprokie-fliek wat amptelik bevestig is, is Maleficent – 'n nuwe weergawe van die Slapende Skone, dié keer met Angelina Jolie in die bose rol van Maleficent. Verfilming skop in Junie vanjaar af.

Die vraag is – hoekom val Hollywood vir die een sprokie ná die ander? Dis nie 'n nuwe ding vir Hollywood nie! Disney doen dit al vanaf 1937 met die animasiefliek, Snow White and the Seven Dwarves. Maar die belangrikste aantrekkingskrag vir filmbase is dat 'n sprokie onmiddellik 'n emosionele aar by die kykers raakboor. Ons het tog almal met sprokies groot geword.

Maar dié donkerder weergawes wat in 2012 en 2013 die groot skerm tref, is spesifiek gemik op die tienermark wat met Harry Potter groot geword het en nou 'verslaaf' is aan die hoogs suksesvolle Twilight-reeks. Dit lyk of hierdie nuwe trend 'n reuse geldmasjien vir Hollywood gaan wees.