Bloemfonteiners Machiel en Jamandi Bekker het gisteraand met die titel as wenners van M-Net se My Kitchen Rules (MKR) weggestap. Tydens dié gewilde kosprogram het tien pare teen mekaar gekook en gewedywer om uiteindelik die prysgeld van R1 miljoen te wen. Dié twee het vir Charnell Young en Kerry-Anne Sonn, twee vriendinne van Johannesburg in die eindronde geklop. ’n Tweede seisoen vanMKR word reeds beplan, het M-Net aangekondig.

Snaaks genoeg was Jamandi en Machiel nie die beoordelaars van die program, David Higgs en J’Something, se gunstelinge tydens die finale ronde nie. Hulle het die getroude paartjie elkeen ’n punt van 7 uit 10 gegee en vir Charnell en Kerry ‘n 8. Dit was die vier gasbeoordelaars, legendariese sjef Cass Abrahams, Carte Blanche se Devi Sankaree Govender, SA eerste Michelin-ster-sjef Jan-Hendrik van der Westhuizen en baanbreker-sjef Margot Janse wat gesorg het dat Machiel en Jamandi as wenners gekroon word.

Die Bekkers saam met Carte Blanche se Devi Sankaree Govender. FOTO Verskaf

“Ons het glad nie gedink ons gaan wen nie”, vertel Jamandi. “Ons het aanvanklik gedink Lani en Louzel [’n ma en dogter van Cradock] gaan wen. Hulle het geweet waarvan hulle praat. Lani het goeie kennis van kos en Louzel is wêreldwys. Die ander deelnemers het kosterme gebruik waarvan ons nog nooit gehoor het nie. Soos ons al hoe verder gevorder het, het ons meer mededingend geword en harder gewerk. Dit was erger as matriek-eindeksamen. Saans né die opnames het ons boek na boek bestudeer en geleer oor kosmaak. Ek dink die feit dat ek [deur die loop van die kompetisie] aan die ander deelnemers se souse gaan proe het, was ’n groot faktor wat ons laat wen het. Mens mag nie aan die ander deelnemers se kos geproe het nie, maar ek het dit steeds gedoen, al is daar met my geraas.”

FOTO M-Net

Vanjaar is Machiel en Jamandi se tiende huweliksherdenking. Dít was hul motivering om aan MKR deel te neem. “Almal gaan altyd Maurituis toe [om dit te vier], maar ek wou iets spesiaal doen, iets wat ons nader aan mekaar sou bring. En het MKR as die ideale geleentheid gesien. Né tien jaar verroes jou huwelik, Mense wat sê dis nie waar nie, jok. Ek het ook gedink hierdie ervaring kan goed wees vir ons besigheid.” Machiel en Jamandi het ‘n gastehuis, Solo Gracia, in Bloemfontein.

En wat gaan die Bekkers met die welkome R1 miljoen doen? “In hierdie stadium is ons droom om ons gastehuis uit te brei en ons kosdrome uit te leef. Die miljoen is great om te wen, maar jy kan nie ’n prys op die ervaring sit nie.”

Vir nou gaan die Bekkers eers saam met hul twee kinders Buffelsbaai toe vir vakansie. En dan sal die mooi en vurige Jamandi en die kalm en avontuurlustige Machiel wag vir die nuwe jaar om te sien watter ander projekte hulle gaan aanpak.
“Maar ons gaan in Bloemfontein bly. Ons sal nooit trek nie.”  

FOTO Verskaf