Die tennisspeler Andy Murray gaan dalk uiteindelik sy meisie van meer as agt jaar vra om te trou, berig The Independent.

Hoewel Andy se meisie, Kim Sears, nog nie dié week met ’n verloofring by Wimbledon gesien is nie, het die Britse weddenskap-maatskappy William Hill bevestig dat die kans op verlowing baie groot is. Die weddenskappe dat hy haar gaan vra, was so groot dat hulle dit gesluit het.

"Bespiegelinge [wat so wyd ondersteun word], word dikwels reg bewys, daarom glo ons die aankondiging van die paartjie se verlowing is baie naby," het ’n woordvoerder van William Hill aan The Independent vertel.

Daily Mail berig dat wanneer weddenskappe só eensydig ondersteun word, dui dit gewoonlik aan dat iemand iets weet. "Miskien het iemand gesien hoe hy ’n ring koop," het ’n woordvoerder aan dié Britse blad gesê.

Dat hy gaan vra is volgens William Hill ’n uitgemaakte saak. Nou begin mense weddenskappe neem oor HOE en WANNEER hy gaan vra - op die oomblik dink baie hy gaan tydens sy toespraak aan die einde van die toernooi op sy knie sak.

Andy het in Januarie getwiet dat hy ná vanjaar se Wimbledon aan Kim, wie se mooi hare haar baie aandag langs die tennisbaan sorg, sal verloof raak. Later het hy egter verskoning gevra en gesê dit was net ’n grap. Dis wyd bekend dat Andy nie gretig is om te trou nie, maar sy ma, Judy, reken daar is nie ’n beter vrou vir hom as Kim nie. En almal het al begin wonder - hoe lank is Kim bereid om te wag?

Bronne: The Independent en Daily Mail

Nóg verlowings op SARIE.com