Meer as 600 000 SMS-stemme wat Sondag vóór 18:05 (die afsnypunt om te stem) gestuur is, is nie betyds ontvang om getel te word nie.

Dit is die eerste keer in dié sangkompetisie se geskiedenis dat dit gebeur. Omdat dit 'n "unieke geval" is, het M-Net besluit om Jason en Sasha-Lee gesamentlike wenners van Idols te maak. Die borge het hul pryse vir die kompetisie verdubbel en Jason en Sasha-Lee kry nou elkeen 'n platekontrak van Sony Music en 'n Citroën-motor, asook al die ander pryse wat deel van die kompetisie was.

'n Tegniese probleem het veroorsaak dat SMS'e wat betyds gestuur is nie betyds aan M-Net se kant ontvang is nie. Die stemme is weer getel ná M-Net die probleem Maandag opgetel het.

Jason het gesê hy was geskok toe hy gehoor het hy het meer stemme gekry, maar dit is die beste uitslag waarvoor hy kon wens. Hy is nie teleurgesteld dat hy nie die oomblik kon beleef om as wenner op die verhoog aangekondig te word nie. "Dié aankondiging is meer skokkend en heelwat beter. Dit voel ongelooflik om deel van hierdie ongewone omstandighede te wees. Ek sal dit nooit vergeet nie."

Sasha-Lee sê sy voel heel goed oor die resultate en dit is ongelooflik dat daar nou twee wenners is.

Jason en Sasha-Lee tree albei volgende week by die opening van die parlement op.
*Jason het 1,3 miljoen stemme gekry en Sasha-Lee 1,1 miljoen.

Vir meer, besoek M-Net se Idols webruimte.