Die ink is skaars droog op die glanspaartjie Johnny Depp en Amber Heard se egskeidingspapiere en dit gons reeds oor ’n nuwe liefde vir die 30-jarige aktrise. 

" ’n Egskeiding is al wat Amber wou hê en nou het sy dit," het haar prokureur aan E! News gesê nadat die dokumente verlede Vrydag onderteken is. "Dit is ’n wonderlike dag."

Nou lyk dit of Amber ook reeds ’n nuwe liefde gevind het!

Gerugte oor ’n verhouding tussen Amber en die 45-jarige Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk loop glo al ’n geruime tyd. Elon is grootbaas van Tesla, ’n vervaardiger van elektriese motors.

So is die aap nou uit die mou? Daily Mail berig die twee was sedert Augustus 2016 gereeld in mekaar se geselskap. En volgens Mirror is Amber versot op Elon en het sy vir al haar vriende vertel hulle het "planne".

Amber en Elon was albei in die 2013-rolprent Machete Kills te sien met Elon wat ’n kameeverskyning gedoen het. Die twee het nooit op die stel ontmoet nie, berig Mirror. Elon en sy tweede vrou, die Britse aktrise Talulah Riley, is in November verlede jaar (wéér) geskei.

Hier’s 5 dinge wat jy nie van Elon geweet het nie

1. Elon het as kind homself leer programmeer op sy eerste rekenaar. Op 12 het hy sy eerste kommersiële sagtewareprogram verkoop vir $500 (sowat R7 000).

2. Hy het onder meer ekonomie en fisika aan universiteite in Kanada en in Amerika gestudeer. Hy het met sy doktorsgraad in fisika en wetenskap aan die Universiteit van Stanford begin, maar dit nie voltooi nie.

3. Elon was die inspirasie vir die akteur Robert Downey Jr. se vertolking van die Marvel-karakter Tony Stark. Robert het die eerste Iron Man-regisseur, Jon Favreau, oorreed om met Elon te gaan praat en ná die afspraak het Jon geweet Elon is sy Tony.

4. As kind het Elon tot vyf uur per dag gelees. Sy kamer was besaai met strokiesboeke en J.R.R. Tolkien was een van sy gunsteling-skrywers. Hy is dikwels op skool geboelie.

5. Hy was drie keer getroud, een keer met Justine Wilson (2000-2008) en twee keer met Talulah (2010-2012 en 2013-2016). Hy het vyf seuns by sy eerste vrou.

Bronne:  Entrepreneur, The New York TimesCanada.com

Lees nou

Aktrise Gerwen Simon is swanger!

Dié moontlike nuwe paartjie breek die internet!

Boer Leon-Fritz praat sy hart uit