Dit was tydens die Oscars in Februarie wat Charlize baie elegant met Channing Tatum op die verhoog gedans het, terwyl Seth dié bekende geleentheid aangebied het. Hy het boonop die liedjie gesing waarop sy gedans het.

En net ‘n maand en ‘n half later is Charlize en Seth weer saamgesien waar hulle in Beverly Hills gaan soesji eet het.

Hoewel een ete onskuldig lyk, is die skindertonge sedert Februarie los oor hul romantiese verbintenis. Hulle het glo gedurende die partytjie ná die Oscars openlik geflankeer.

Seth MacFarlane

Die 39-jarige Seth is die skepper van die animasie-reeks The Family Guy en het onlangs sy verhouding met die aktrise Emilia Clarke verbreek.

Charlize en haar vorige ernstige kêrel, Stuart Townsend, het hul verhouding in 2010 beëindig. Die enigste man in haar lewe op die oomblik is haar oulike seun Jackson wat hierdie jaar 2 jaar oud geword het.

Ons sal maar kyk of hierdie Charlize se nuwe kêrel gaan word – hulle begin boonop volgende maand saam skiet aan die fliek A Million Ways to Die in the West. Toevallig genoeg het Charlize en Stuart ook op ‘n filmstel ontmoet ...