*Ons het toe reg geraai! ADAM het bevestig dat Kyle Grant hulle nuwe lid is. Volg @adamgroep op Twitter om op hoogte te bly van dié sanggroep.

Die musiekgroep ADAM kondig eers Donderdag aan wie hul nuwe lid is, maar ná ’n onderhoud met Bok Radio se Wynand van Heerden raai ons Kyle Grant is die nuutste toevoeging tot die groep.

Die Bok Radio-omroeper Wynand van Heerden het vanoggend ’n anonieme onderhoud met dié nuwe lid van ADAM gevoer en ’n paar wenke oor die jong musikant gegee. Hy het in die  onderhoud die skuilnaam Wimpie Burger aangeneem.

Die nuwe lid van ADAM het ’n klein rol in Egoli gespeel, is 28 jaar oud, kom van Alberton in Johannesburg, het al in Asië en Engeland getoer met Pieter Toerien-produksies en is getroud met ’n sangeres en aktrise.

“Ek gaan liedjies skryf én sing,” het die musikant vir Wynand gesê oor sy verantwoordelikhede by die groep.

Is Kyle Grant die geheimsinnige nuwe lid van ADAM? FOTO: Hannes Uys Is Kyle Grant die geheimsinnige nuwe lid van ADAM? FOTO: Hannes Uys

Kyle, wat skoolgegaan het aan die Northcliff High School in Johannesburg, het in 2009 en 2010 die rol van ’n jong man, Schalk, in Egoli gespeel (kyk hier na 'n TV-onderhoud met Kyle op Glitterati) en het al deur Asië getoer saam met Pieter Toerien se produksie High School Musical. Hy het ook in die onlangse produksie van Sunset Boulevard die rol van Artie Green gespeel.

Wynand het ook met Reynardt Hugo, hoofsanger van ADAM en dokter Tertius op Binneland, gepraat.

“Ons is baie opgewonde,” het Reinhardt oor die nuwe lid gesê.

“Die meisies gaan mal wees oor hom.”

FOTO: Phyllis Green FOTO: Phyllis Green

ADAM, wat oorspronklik uit Reynardt Hugo, Joe Foster (foto links) en Hugo Ludik bestaan het, het verlede jaar aangekondig dat Joe die groep verlaat. Die nuwe lid se eerste optrede saam met die groep gaan op 26 Januarie wees.

Hul nuwe treffer "Sal oorlog vir jou maak" is deel van die fliek Pad na jou hart se klankbaan.

ADAM se nuwe lid in ’n kits

Die groep het dié inligting op hul Facebook-blad gedeel.

  • Gunsteling-kleur: Blou
  • Kar: Hy ry ’n silwer Toyota Corolla
  • Troeteldier: Mary die kat

WAT DINK JY? SAL KYLE INPAS BY ADAM? Los kommentaar onderaan dié artikel, of deel dit met ons op ons Facebook- of Twitter-blad!