“Prys die Almagtige Hemelse Vader, Heilige Gees en Seun van God, Jesus. Mericke se scan is skoon. Halleluja,” het Izak gesê.

“Ons is ongelooflik bly,” het Mericke kort ná die toets aan sarie.com vertel.

“Ek is nou al twee jaar lank 'skoon', maar elke keer is ons maar op ons senuwees vir die toets.”

Skildklierkanker is in Maart 2007 by Mericke gediagnoseer, lank voor hul troue in Julie 2009. Dokters het eers net ’n klier verwyder en later ook haar skildklier. Sy is letterlik 'n paar weke voor hul troudag skoon verklaar.

“Ek moes herhaaldelik radioaktiewe jodiumpille drink wat die kankergewas laat 'krimp' het."

Maar in Desember 2008 moes sy weer teater toe - dié keer vir ’n groot operasie, aangesien die dokter vermoed het dat die kanker versprei het tot in die limfkliere.

“Ek is vir die eerste keer in my lewe gekonfronteer met die dood en die feit dat ek dalk my geliefdes alleen moet agter laat. Dit was die heel ergste.”

Dit is vir Mericke baie bevrydend om gesond te wees. Hoewel sy die laaste tyd baie betrokke was by Izak se loopbaan as akteur en sanger, het die tyd gekom dat sy weer haar eie dinge wil aanpak. “Ek het ’n graad in bemarking en een in menslike hulpbronbestuur, so ek wil nou op my loopbaan fokus. Dit het sin gemaak om vir Izak te werk, want dit is baie aanpasbare ure, maar nou is ek reg vir my eie ding.”

Aan die begin van hierdie pad het sy soms gevoel sy word gestraf, maar mettertyd het sy besef dat alles in God se hande is en Hy haar gebruik om sy plan uit te leef. “My lewe is nou soveel ryker, ek het meer empatie en begrip vir ander se swaarkry, en my verhouding met God is ook baie dieper. Ek vertrou Hom 100%.”

’n Jaar nadat sy vir die eerste keer “skoon” was, het sy angsaanvalle begin kry. “Dit is blykbaar baie algemeen as 'n mens so 'n traumatiese ervaring beleef. Ek word behandel daarvoor,” gesels sy.

Izak en Mericke is gelukkiger as ooit. Praat hulle van kinders? Sy erken hulle is baie broeis en as hulle sou swanger raak, sal hulle baie bly wees!