“Toe ons by die gastehuis stop, toe loop die skelms by die voordeur uit. 'n Viermeterhek is omgery!” het hy op sy Twitterblad geskryf.

“Ons wou vinnig by die gastehuis stop op pad van die lughawe af om reg te maak voor die vertoning,” vertel Izak aan sarie.com.

Die inbrekers het die hek omgery, maar met ’n sleutel in die kamers ingegaan waar hulle items gesteel het. “Niemand is seker waar hulle die sleutels in die hande gekry het nie,” vertel Izak.

Die inbrekers het van die gaste wat daar tuis was se geld, selfone en ’n iPad gesteel.

“Ons is dadelik na ’n ander gastehuis geneem waar ons die nag geslaap het voor ons die volgende dag terug is Johannesburg toe.”

Vir Izak en Mericke is dit nie die eerste keer dat hulle onder ’n rooftog deurloop nie.  “So 3 jaar gelede het ons een aand wakker geword en besef daar is inbrekers in ons huis. Ek het vir Mericke in die badkamer toegesluit en het in die kamer gebly. Gelukkig was ons kamerdeur gesluit, maar hulle het elke nou en dan daaraan geruk. Ons kon hoor hoe goed in die huis breek soos hulle deur ons besittings gaan om te kyk wat hulle wil hê.”

Kort na die voorval die afgelope naweek het ’n aanhanger vir Izak op Twitter gevra of hulle die rowers agternagesit het. “Het hul eerder gelos. Was bang hul het dalk 'n gun. Weet dis nie snaaks nie, maar ek kan nie help om te lag nie,'' het hy geantwoord.

Hy vertel dat dit hartseer-snaaks is. “Mens is nêrens meer veilig nie. Nie in jou eie huis nie, en ook nie in ’n gastehuis nie. Ons hande is afgekap, en ons kan niks daaraan doen nie.”

Gelukkig het niemand in die voorval seergekry nie.