Jy sien eers net sy hande wat die silwersigaret-houer oopvou. Dan oorrompel die volle, onweerstaanbare pakket jou: Sy swart hare glad teruggekam, die aandpak perfek en ’n strikdas om die prentjie af te rond. Maar meer opvallend is sy houding: So onbeskryflik suave.

Dan, terwyl hy die sigaret aansteek en die aansteker met sy wysvinger toeklap, sê hy die drie woorde, seker een van dié bekendste uitdrukkings in die silwerdoek-geskiedenis: “Bond, James Bond.”

Dié toneel kom uit die legendariese Dr. No, die eerste James Bond-fliek wat 50 jaar gelede op die grootskerm gedraai het. Die akteur Sean Connery was toe dié sjarmante spioen. Hy is steeds baie mense se gunsteling-Bond – ook ons lesers s’n, wat hom op SARIE se Facebook-blad as nr. 1 gekies het.

Dr. No was die eerste van ’n reeks flieks oor die karakter wat die wêreld só aangegryp het dat 007 vandag steeds die suksesvolste rolprent-konsessie tot dusver is, sê Phil Pretorius, voorsitter van die departement kommunikasie by die Noordwes-Universiteit se Vaal-driehoek-kampus. Phil se meesters-graadverhandeling is oor James Bond.

Die Brit Ian Fleming het Bond? 60 jaar gelede geskep toe hy Casino Royale (in 1952) in net ’n bietjie meer as twee maande geskryf het. Daarna het hy nog 13 boeke oor hom geskryf. Dié geheime agent is nog lank nie oud en koud nie. Fliek nommer 23, Skyfall, die derde Bond waarin Daniel Craig die hoofkarakter speel, begin in November landwyd draai.

Ná al die dekades wil mans steeds soos Bond wees en vroue wil aan sy?sy wees, sê Phil. “Mans bewonder die feit dat hy onweerstaanbaar, selfversekerd, aantreklik en gevaarlik is, en vroue begeer dit.”

BOND EN SY VROUE DEUR DIE JARE

SEAN CONNERY (1962 – 1967; en weer in 1971)
Connery, wat in ses Bond-flieks was, was die ideale James Bond vir sy dag. Hy het nie nonsens verduur of nee vir ’n antwoord aanvaar nie. Hy was nie altyd die gentleman wat dié Britse spioen vandag is nie, maar hy het tog geweet hoe om romanties te wees en vroue te verlei.

Sean se bekendste Bond-meisies:

* Ursula Andress in Dr No (1962): Daai swembroek!

* Honor Blackman as Pussy Galore in Goldfinger (1964)

* Weer Ursula Andress as Vesper Lynd in die oorspronklike Casino Royale (1967)

* Jill St John as Tiffany Case in Diamonds are Forever (1971)

GEORGE LAZENBY (1969)
Hy was die nerd wat nie heeltemal geweet het wat om met ’n vrou te doen nie. Hy het gekies om net een fliek te maak.

ROGER MOORE (1973 – 1985)
Roger Moore was nie so aantreklik soos Connery nie. Hy het vroue met sy persoonlikheid verlei en hulle laat goed voel oor hulself. Hy was baie anders as Connery se Bond. Hy was nie so aggressief en fisiek nie, hy was eerder glad met sy mond, en ook sagter met vroue. Hy het sewe keer die rol vertolk.

Roger Moore se Bond-meisies:

* Jane Seymour as Solitaire in Live and Let Die (1973)

* Britt Ekland as Goodnight in Man With The Golden Gun (1974)

* Barbara Bach (vrou van Beatle Ringo Starr) as Major Anya Amasova in The Spy Who Love Me (1977)

* Carole Bouquet (voormalige gesig van Chanel) as Melina Havelock in For Your Eyes Only (1981)

* Kim Basinger (eksvrou van akteur Alec Baldwin) as Domino Petachi in Never Say Never Again (1983)

* Tanya Roberts as Stacey Sutton in A View To A Kill (1985)

TIMOTHY DALTON (1987 – 1989)
Hy was afgestomp teenoor vroue en het nooit emosies teenoor hulle getoon nie. Hy was in twee Bond-flieks.

Timothy Dalton se Bond-meisies:

* Maryam d'Abo as Kara Milovy in The Living Daylights (1987)

* Talisa Soto as Lupe Lamora in License to Kill (1989)

* Famke Janssen as Xenia Onatopp in Goldeneye (1995)

PIERCE BROSNAN (1995 – 2002)
Brosnan was vier keer James Bond. Hy was die “sagste” een van die lot en het maklik verlief geraak.

Pierce Brosnan se Bond-meisies:

* Teri Hatcher (van Desperate Housewives-faam) as Paris Carver in Tomorrow Never Dies (1997)

* Denise Richards (Charlie Sheen se eksvrou) as Dr. Christmas Jones in The World Is Not Enough (1999)

* Halle Berry (wéér in 'n soortgelyke Ursula Andress-bikini) as Jinx Johnson in Die Another Day (2002)

DANIEL CRAIG, James Bond sedert 2006
In sy flieks word daar net op een vrou in elke fliek gefokus, waar Bond in die verlede sommer vier minnaresse in een fliek sou hê. In Casino Royale sien ons sy weerloosheid omdat dit wys hoe 007 vir die eerste keer in sy lewe verlief raak en dan die liefde van sy lewe verloor. Sy derde Bond-fliek, Skyfall, word in November bekend gestel.

Daniel Craig se Bond-meisies:

* Eva Green as Vesper Lynd in die nuwe weergawe van Casino Royale (2006)

* Gemma Arterton as Strawberry Fields in Quantum of Solace (2008)

* Olga Kurylenko as Camille in Quantum of Solace (2008)

* Bérénice Marlohe as Sévérine in Skyfall (2012)

* Bron: Phil Pretorius