Die naam Jamie Uys en die fliek The Gods Must Be Crazy is sinoniem. Dis egter maar net één van die vele suksesvolle flieks wat dié fliek-legende gemaak het en hy was een van die eerste Suid-Afrikaanse filmmakers wat internasionaal vir sy werk vereer is. Beautiful People, wat die byna menslike gedrag van diere in die Kalahari en die Namib-woestyn wys, is in 1975 bekroon met 'n Golden Globe-toekenning as Beste Dokumentêre Fliek. Jare later het The Gods Must Be Crazy ook groot sukses oorsee gesmaak.

Om hulde te bring aan sy nalatenskap sal daar tydens die Innibos-kunstefees, vanaf 1 tot 5 Julie in Nelspruit, 'n spesiale Jamie Uys-fliekfees gehou word. Die volgende flieks sal in die Bush-bioskoop (in die ou Gimnasiumsaal) vertoon word: Die professor en die prikkelpop, Dirkie, Beautiful People, Funny People 1 en 2, en The Gods Must Be Crazy 1 en 2.

Alle vertonings is gratis en die hele gesin is welkom!