In 2010 het een van vroue se grootste vrese vir Jane Fonda ’n werklikheid geword: ’n tumor is in ’n roetine-ondersoek in haar bors ontdek.

Toe dié Oscar-bekroonde aktrise onlangs in ’n onderhoud met die kletskoningin Oprah Winfrey in haar televisiereeks Oprah’s Next Chapter gepraat het,het sy gesê: “Ek het gevoel ek het by ’n familie van miljoene vroue aangesluit wat ook al hierdeur is. En ek het gedink ‘dit is interessant’ ... ”

Gelukkig is die tumor vroeg opgetel en kon dit sonder enige komplikasies verwyder word.

“Die diagnose was ’n goeie toets vir my, want ek het altyd gesê ek is nie bang vir die dood nie. En ek was ook nie.”

'n Rustige en stylvol geklede Jane het in die onderhoud gesê op haar ouderdom is daar min dinge wat haar bang maak, en die dood is beslis nie een daarvan nie. “Ek hoop ek gaan nie dood nie, maar ek is nie bang om dood te gaan nie.”

Die aktrise het twee biologiese kinders, Vanessa Vadim (44) en Troy Garity (39), wat albei in die filmbedryf is. Sy het ook in die 1980's saam met haar vorige man, Tom Hayden, ’n tienerdogter, Mary Williams, "aangeneem" – alhoewel dit nie amptelik was nie.

HIERONDER is ’n video waarin Jane praat oor die vreugde en vrese van oudword.