In ons huis is dit nou sulke tyd. As ouer word ek daagliks getoets. Ek word gekonfronteer met die veranderings wat plaasvind as die kinders ouer word en word elke dag uitgedaag met nuwe situasies wat ek besef ek anders moet hanteer in die kinders se ‘grootmens wêreld”. Daar is nuwe grense en nuwe reels wat neergelê moet word.

Die grootste uitdaging in ons huis is  lê nie voor die kind nie maar voor die ma!

My twee seuns bly nog in die huis en die lekkerte hou net nie op nie. Die geselskap van jongmense is heerlik. Hulle stry aanhoudend, elkeen het ‘n opinie, kook en neem deel in die huistake en ons etes saans is gesellig.  Nog nooit was die tydjie saam met hulle so stimulerend nie. Maar die oorgang van die kinderwette na die grootmens wette is maar ‘n lekker deurmekaarspul want ek is nie altyd seker of ek die pas kan volhou met wat van my verwag word nie?

Meer as ooit moet ek as ouer nou in myself glo en vertrou dat my opvoedingstaak goed genoeg was?
Jongmense weet van regte,  gelykheid, demokrasie en protes maar hulle maak ‘n groot fout as hulle dink dat dieselfde reëls wat geld daarbuite, ook onder ons dak geld.

Nee, wat, ek voel dat in die Republiek van Mamma Janie werk dit anders....
In my huis is privaatheid nie ‘n reg nie. Dis ‘n voorreg en dit kry jy met  betroubare en respekvolle optrede. As jy die wette van die Republiek oortree, vat ek jou burgerreg terug. Klaar! My vriendin sê vir my ek moet op ‘n seker tyd in my lewe leer om te laat gaan. My kinders sê ek’s ‘n ‘control freak’? Ek dink nie so nie. Ek kan net nie die deurmekaar lewe van ‘n jong mens wat ander ure en ander gewoontes het, hanteer nie.

Wanneer hou ‘n mens op baklei oor deurmekaar kamers? Waneer hou jy op baklei oor inkomtye? Wanneer hou ‘n mens op sakgeld gee? Mag ‘n mens iets sê oor vriende? Mag ‘n mens kla oor musiek wat hulle speel? Wat van die vreemde klere wat hulle dra?

Beteken dit ek moet stom en blind word as hulle 21 is?

‘n Mens wil tog hê dat jou kind normaal moet wees nie maar waar moet hy vry as hy dit nie onder ons dak kan doen nie? Is ek nou die een met die gebakte pere. Moet ek nou anderkant toe kyk?
Volgens my seun is  die konsep van ‘min of meer’ iets wat ek moet leer om te begryp. Die kombuis is min of meer aan die kant. Die handoeke hang min of meer  aan die draad, die huis is min of meer skoon en hulle beddens is min of meer elke dag opgemaak. Hy sê dat as ek kan leer om te luister, sal ek meer kan verstaan en as ek meer kan verstaan sal ek meer kan vergewe.
Ware woorde maar steeds...

Met die nuwe teorieë vang ek myself nog  steeds met geknersde tande voor die toe deur van sy  kamer... en dan, as ek  met gefokuste dissipline omdraai en wegstap dink ek net aan die ‘min of meer’ teorie. Gelukkig is die  grondwet van  my Republiek min of meer met wit kryt op ‘n swartbord geskryf...