Waarheen ry julle vanjaar op jul motorfietse?

Ons vertrek 15 September uit Johannesburg en eindig 24 September in Kaapstad.

Hoeveel van julle gaan op die toer?

Ons is ongeveer 45 mense. 20 Survivors, wat bestaan uit mans en vroue, en die res is ons logistieke- en bemarkingspan, ondersteuners, media- en vermaakmense, en mediese personeel.

Sonder hulle gebeur niks nie. Ons het dikwels net ’n uur in ’n dorpie en dan verdeel ons in ses groepies om by al die skole of sakeondernemings uit te kom. Ons logistieke span ry vooruit en berei die sale voor, organiseer die geskenkies en die pamflette wat ons uitdeel en maak seker ons vertoning verloop vlot.

Watter dorpe gaan julle alles besoek?

Ons besoek Johannesburg, Pretoria, Heidelberg, Parys, Bloemfontein, Richmond, Beaufort-Wes, Ceres en Stellenbosch. En verskeie gemeenskappe tussenin – terwyl ons op pad is.

Hoe het julle besluit watter dorpe julle gaan besoek?

Ons doen navorsing, besoek die dorpies of die gemeenskappe waarna ons verwys word en besluit dan. Ons vrywilligers bly wyd verspreid in Suid Afrika en dit help ons met die nodige terugvoer.

Ons is 'n spesiale projek van People living with Cancer, 'n gevestigde organisasie met baie inligting oor waar die behoefte in ons land lê. Hulle help ons ook met die besluit.

Waarna sien jy die heel meeste uit?

Al ry ek bykans 34 jaar al motorfiets, bly ek bang vir die ryery. Die fietse is baie groot, die pad is lank en om in so 'n groep te ry, verg baie konsentrasie. Daar is altyd 'n fiets skuins voor jou en een skuins agter jou, daarom kan jy nie ry soos jy wil nie. Jy moet bybly en fokus.

Ek sien uit na die hele ervaring. Daar is dinge wat 'n mens so in jou valhelm dink wat jy nie normaalweg dink nie, en die mense en dinge wat jy langs die pad ervaar, is so roerend dat dit jou lewe verander.

Een van my doelwitte is om elke jaar een projek doen wat 'n verskil maak in ander mense se lewens. Ek moet erken, partykeer dink ek aan die einde en sê “Nooit weer nie!” Dan vat dit 'n paar maande om weer my asem terug te kry voordat ek enigsins weer aan 'n motorfiets of liefdadigheid wil dink!

Wat is die publiek se reaksie op die reis?

Die publiek is altyd baie positief. Ons kry ongelooflike bystand langs die pad en daar is nooit 'n tekort aan vrywilligers wat wil hand bysit met die reëlings nie.

Ons webblad www.cancervive.co.za kry ook reeds baie ondersteuning, veral deur middel van donasies.

Ons is nou ook op Facebook en Twitter en dit is lekker om te sien hoe mense deelneem en ons ondersteun.

Watter geleenthede vind nou reeds plaas?

Daar is baie. Elke lid van die span moet fondsinsameling doen, daarom het almal 'n projek waaraan hulle werk of deelneem – dis deel van ons kriteria as ons die deelnemers kies.

Daar is onder meer 'n gholfdag, 'n nag-pretloop, mini-motorfietsritte, verskeie fondsinsamelingsprojekte en vertonings met Shimmy Isaacs, praatjies in die platteland, donasie-speletjies... ag dit hou nie op nie.

Die aktiwiteite hou deur die jaar aan.

Waarna kan mense in die dorpe waarheen julle gaan uitsien?

Ons bied 'n komiese vertoning aan, “Howzit my Bra” deur Shimmy Isaacs.

Sy het vanjaar die Kanna-toekenning vir die Beste Opkomende Kunstenaar gekry vir dié opvoering. Dit is 'n komiese stuk wat handel oor 'n jong meisie wat haar borste ontdek, maar dit sluit ook haar oupa se ervaring van sy prostaatkanker in, wat beteken dat mans én vroue die vertoning wil sien.

Ons het verder musiek, 'n sanger en gassprekers. Ons lyk soos die Boswell Wilkie-Sirkus as ons in die dorpe stop.

Lillian Dube is 'n reuse-trekpleister in die swart gemeenskappe, want sy praat padlangs oor die ‘skaam kankers’ – wat vanjaar ons tema is. Dis altyd lekker om haar aan boord te hê.

Ons praat ongeveer sewe tale tussen ons almal en elke deelnemer kan voor 'n gehoor praat, sy storie deel en raad gee oor die onderwerpe wat ons dek.

Ons het op sarie.com die kompetisie oor die naam aangebied. Hoe het julle uit al die inskrywings besluit op Cancer.vive?

Ons het baie navorsing gedoen en eers besluit op die logo wat 'n groot C. is (met 'n punt agterna). Dit beteken basies die Big C -stop. Maar die probleem was dat C. nie eintlik genoeg sê nie.

Ons het met sarie.com se kompetisie amper teen die einde 'n voorstel van Lindi Strydom gekry en ons almal het daarvan gehou. So, ons verwys na onsself as Cancer.vive maar ons logo bly die C. met die punt.

Wie is jul borge?

Ons hoofborg is REVLON, ons kry motorfietse van TRIUMPH, vlerke van 1Time, ondersteuningsvoertuie van Porters Auto en verblyf van Protea Hotel.