Jimmy Kimmel, die komediant en aanbieder van die kletsprogram Jimmy Kimmel Live, is aangewys as die seremoniemeester van die 89ste Academy Awards. Hy het die goeie nuus onlangs op ’n episode van Jimmy Kimmel Live aangekondig.

Hoewel dit sy eerste keer as aanbieder by die Oscar-aand sal wees, is hy reeds ’n gesoute aanbieder. Hy het vanjaar by die 68ste Emmy-toekennings en in 2012 by die 64ste Emmy-toekennings gasheer gespeel, berig TIME.

Ná die bekendmaking het Jimmy gegrap oor vanjaar se laat aankondiging en genoem dat hy moontlik nie die Oscar-regisseurs se eerste keuse was nie, berig Variety.

"Die regisseurs het deur ’n lang lys name gewerk en toe op die ou end besluit op my, die een wie se ateljee reeds oorkant die pad van die Oscars se Dolby-teater is. Ek sal seker nou ’n aandpak moet koop," het hy gespot.

Die hoogtepunt van Hollywood se toekenningseisoen het ’n lang geskiedenis. In 1953 is die Academy Awards-seremonie die eerste keer regstreeks uitgesaai. Daardie jaar het Gary Cooper die Oscar vir beste akteur gekry vir sy spel in High Noon en Shirley Booth is bekroon as beste aktrise vir haar rol in Come Back, Little Sheba. Die komediant Bob Hope was die seremoniemeester.

Maar dit is nie al nuus wat Jimmy op sy kletsprogram aangekondig het nie. Hy gaan ook vir die vierde keer pa word! Sy vrou, Molly McNearney, verwag die paartjie se tweede baba. Hulle het reeds ’n 2-jarige dogter, Jane.

Jimmy het nog twee kinders, Katie en Kevin, uit ’n vorige huwelik.

Lees nou

Celebs – die mooiste haar-transformasies van 2016

Disney verjaar, ons kies prinsesse!

Sexy, sexier, sexyste by die Victoria’s Secret after-party