Sy naam is ewe bekend in die SA kunstewêreld as in Hollywood-kringe.

Op 76 het dr. Bonisile John Kani reeds talle toekennings agter sy naam, insluitend die gesogte Tony vir beste akteur wat hy in 1975 saam met Winston Ntshona gewen het. Dit was vir die toneelstukke Siswe Banzi is Dead en The Island waarin albei akteurs te sien was en waarmee hulle Brittanje en die VSA getoer het.

12th September 1973: South African playwright Ath
John Kani (links), Athol Fugard en Winston Ntshona. FOTO Getty Images / Gallo Images

Gisteraand by die 9de Fiësta-toekennings is John vereer vir sy lewenslange bydrae tot die kunste. Die spesiale toekenning is aan hom oorhandig deur veteraan-aktrise en -regisseur Sandra Prinsloo, wat self ook by die Fiëstas vereer is.

In 1985, met apartheid in een van sy donkerste fases, het Sandra en John teenoor mekaar gespeel in die August Strindberg-stuk Miss Julie. In een van die tonele soen hulle mekaar passievol, iets wat die destydse regering laat rooi sien het. Dekades later, in 2017, is die twee akteurs herenig vir Só ry Miss Daisy

John Kani en Sandra Prinsloo gisteraand by die Fiëstas. FOTO KYKNET

Maar vra jy vir John wat sy grootste prestasie is, kom sy antwoord vinnig en eenvoudig - sy vrou, Mandi, en hul sewe kinders.

"Ek is net so dankbaar. My vrou, my kinders en my kleinkinders is die belangrikste deel van my lewe," het John in 2017 aan SARIE.com gesê.

In 2016 was hy as die koning van Wakanda saam met Hollywood-sterre Robert Downey Jr., Chris Evans en Scarlett Johansson in die Marvel-fliek Captain America: Civil War. Die rol het hy hervat in 2018 in die Oscar-benoemde fliek Black Panther, waarin die akteurs Xhosa praat. Hy help nie net met die aanleer van dié komplekse taal nie, maar dien ook as dialek-afrigter. 

"Dit was ’n wonderlike ervaring om deel te wees van die film en die proses. En om te sien hoe Lupita-hulle met die klanke speel."

FOURWAYS, SOUTH AFRICA FEBRUARY 16: (SOUTH AFRICA
By die Johannesburgse première van 'Black Panther'. FOTO Getty Images / Gallo Images

Vanjaar sal John in die "lewende" weergawe van die Disney-treffer Lion King te sien wees saam met sterre soos James Earl Jones, Alfre Woodard, Chiwetel Ejiofor en Grammy-wenner Beyoncé. 

Toe Disney hom in 2017 nader, het sy seuns gereken hy moet die rol van Rafiki speel. En toe hy hoor die rol van Rafiki is wraggies syne, het hy net geglimlag. "Hy is wys en oud, ek is gelukkig om die karakter te vertolk. Eintlik is ek net gelukkig dat hulle aan hierdie ou man gedink het," het hy destyds laggend aan SARIE.com.

Hy sien daarna uit om die fliek vir sy sewe kleinkinders te wys.

Kyk die lokprent: