Hy vertel dat hy sedert sy diagnose reeds drie chemoterapiebehandelings gehad het, asook ’n operasie waar onder meer sy galblaas en die helfte van sy maag en pankreas verwyder is. Ná sy laaste chemo-sessie in Februarie vanjaar het die toetse gewys dat die kanker in remissie is. Dis toe dat hy besluit het om dié laaste konserttoer te doen.

“Ek het weer begin goed voel. Ek het besef: Ek weet nie wat gaan gebeur nie … ek weet nie hoe lank ek het nie.” Met sy Final Journey-toer sluit Johnny ’n indrukwekkende loopbaan van byna 40 jaar af. Hy is bekend vir sy unieke musiekstyl wat tradisionele Afrika- en Zoeloe-klanke, -lirieke en -danse inkorporeer. Hy het ook ’n reuse- internasionale aanhang en staan in Frankryk bekend as “Le Zoulou Blanc” (Die Wit Zoeloe).

Juluka - Sipho Mchunu & @johnnyclegg on stage together! #TheFinalJourney pic: @missjinamin

A post shared by RealConcerts (@realconcerts) on

Hoewel dié laaste toer sy uitdagings het, is Johnny opgewonde oor die rits plaaslike en internasionale vertonings wat kom. “Ek voel fiks en sterk en ek dans en ek sing. Ek gee dit my alles terwyl ek in dié toestand [remissie] is.” Sy aanhangers motiveer hom. “Ek het Clegg-heads, Savuka-heads, Juluka-heads wat almal saam met my ouer geword het. Hulle waardeer wat ek doen en hulle is werklik hartseer en wil hierdie finale konneksie maak en vier, en ek voel baie gemotiveerd om dit saam met hulle te doen.”

Hoewel Johnny reeds in Johannesburg was, is die vraag na kaartjies so groot dat hy besluit het om nóg ’n laaste konsert in die Goudstad te hou. Dit sal op 11 November by die Ticketpro Dome wees. Kaartjies is vanaf vandag beskikbaar by Computicket.