*UIT ONS ARGIEF: Die artikel is oorspronklik op SARIE.com in 2014 gepubliseer.*

"Die man is ’n masjien. Hy het pas teruggekeer van ’n gholfdag in Doebai ..."

Só sê vriendin Odette Schwegler, bekroonde joernalis, regisseur en vervaardiger van Joost: spel van glorie, ’n vollengte- dokumentêre rolprent oor Joost se reis met motorneuronsiekte (MNS). Die rolprent het Augustus verlede jaar sy debuut by die kykNET Silwerskermfees gemaak. Joost lees nou argief Dié dokumentêr word in Augustus vanjaar (2014) deur kykNET na rolprentteaters landwyd gebring. Na afloop hiervan word dit op DStv se BoxOffice uitgereik. Dié oud-Springbok is in April 2011 gediagnoseer met hierdie ongeneeslike siekte wat die sentrale senuweestelsel aantas. Dit lei tot verlamming en uiteindelik die dood.

Dokters het destyds gesê Joost se kans is 20 persent om nog twee jaar te leef. Hy was eintlik in "genadetyd" toe hulle op 20 Februarie 2013 aan die rolprent begin skiet het ...

Odette, wat anderhalf jaar saam met Joost gewerk het aan dié dokkie, was verstom (en is steeds!) oor hoe goed hy dit hanteer. Sy het die gesin goed leer ken tydens die maak van die prent en vertel hoe sy saam met hulle en sy ander vriende môre ’n verjaardagpartytjie met ’n tema gaan vier. Ná die dokkie het hulle na haar as "familie" verwys ...

"Dit gaan goed met Joost. Hy is swak, maar hy is verlede week by die Discovery Sportbedryf-toekennings staande toegejuig toe die oud-Bokrugbykaptein Morné du Plessis hom met die Deloitte-prys vir uitstaande bydrae tot Suid-Afrikaanse sport vereer het. Sy gees is gesond." In sy toespraak het Morné onder meer gesê Joost verdien ’n ereplek in die rugby- én in die lewe se eregalery. Joost het saggies gesê: "Dié toekenning laat my nederig voel". (Sy broer, Pieter, het dit aan die gehoor getolk omdat Joost nie meer duidelik gehoor kan word nie.) Odette se verjaardagwens aan hom is:

"Joost, jou Legende! Jy vier weer eens ’n verjaardag al was dokters skepties ... Jy het aan my en die wêreld bewys enigiets is moontlik. Dankie dat jy so ’n inspirasie in mý lewe is. Dankie vir jou vriendskap. Veels geluk en ek klink ’n glasie op die volgende een!"

En van SARIE se kant af wens ons ook vir jou, Joost, alle geluk en vreugde op jou 44ste verjaarsdag!

Blaai deur ons galery vir foto's van Joost en sy gesin

*FOTO'S: Facebook

Lees ook