Joost en sy J9-stigting is benoem vir ’n neknominasie en hulle het dié uitdaging aanvaar.

In dié video deur die J9-stigting sê Joost dat hy vir dié gesin waarvan die pa, Stuart McFarlane, ook met MNS gediagnoseer is, wil help om mooi herinneringe te skep.

Die stigting bewaarheid ’n droom vir dié gesin. Kyk na dié video hieronder:

Wat is neknominasie?

Dié neiging het volgens Die Burger in Australië begin. Jy benoem iemand om ’n drankie (gewoonlik sowat 500 ml) vinnig te drink en dit op kamera vas te vang. Dié persoon benoem dan nóg twee mense wat dieselfde binne 24 uur moet doen.

Maar Brent Lindeque van Johannesburg het besluit om “neknominasie” se nek om te draai. Hy het dié trend gebruik om eerder goeie dade te bevorder. Hy het vir ’n hawelose langs die pad ’n toebroodjie, sjokolade en koeldrank gegee en twee van sy vriende benoem om binne die volgende 24 uur dieselfde te doen.

Dié video van Brent het vinnig oor die internet versprei.

Ná die video het talle Suid-Afrikaners in Brent se voetspore gevolg. Soek op YouTube na die hashtags #NekNomination en #ChangeOneThing om nóg video’s te sien waar mense goeie dade doen.

Nóg internet-trends wat inspireer

Gelukkig vir 100 dae

Die webtuiste 100happydays.com het aan mense dié uitdaging gestel: Neem elke dag vir 100 dae iets af wat jou gelukkig maak en deel dit met mense op sosiale netwerke.

Die mense agter dié inisiatief glo dat mense vinnig sal sien hoe geseënd en gelukkig hulle werklik is. Hulle glo ook dat dit jou meer optimisties maak en in ’n beter bui plaas as jy daagliks iets sien wat jou gelukkig maak.

Skryf op die webtuiste in vir dié uitdaging en begin jou foto’s deel! Soek die hashtag #100HappyDays om mense se foto’s te sien. Een van Nadia Beukes, die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou, se dinge wat haar gelukkig maak.

Jou Facebook-hoogtepunte

Om Facebook se 10de verjaardag te vier kan jy nou ’n video van al jóú groot oomblikke op Facebook sien:

1. Teken in op jou Facebook-profiel

2. Klik op jou profiel

3. Vee jou naam bo in die URL-blokkie uit en vervang dit met “lookback” – Dit moet lees: http://www.facebook.com/lookback

4. Siedaar! ’n Video van jou Facebook-hoogtepunte

Bronne: Die Burger, 100happydays.com, www.joost.co.za