Die volgende inligting verskyn in die nuwe bêreboek vir ouers en self grootouers, SARIE Eet!, nou te koop.

Waaroor gaan SARIE Eet!? Michélle van Breda, SARIE se redakteur, gee meer duidelikheid: Om ’n gelukkige kind groot te maak is elke ouer se grootste vreugde, en – kom ons sê dit maar – uitdaging! Boaan die lys van dinge om rég te kry is die kweek van goeie eetgewoontes. Maar waar om te begin?SARIE Eet! bied antwoorde op baie van die vrae wat ’n ma daagliks vra. So met die voor-die-tyd deurlees het ek weer besef dis die soort inligting wat haar gaan help om haar kind beter te verstaan en meer ingeligte besluite te neem. En om haar op die ou end die nodige gemoedsrus te gee. Boonop is SARIE Eet! prakties, met baie wenke, idees en resepte wat die hele gesin op die pad na ’n gesonder leefstyl sal plaas.Maar die grootste plus? Die artikels is nagevors deur geregistreerde dieetkundiges, wat ook ma’s is. Hulle verstaan!

Wat beteken dit om emosioneel te eet?

Dit is ’n aangeleerde gedrag wat eenvoudig neerkom op die inname van kos in reaksie op emosionele prikkels, eerder as honger. Algemene emosies wat hiertoe aanleiding kan gee, is angstigheid, stres, verveeldheid, droefheid, depressie, onsekerheid, moegheid, frustrasie en gelukkigheid.

Multi-ethnic children friends with curly hair and
FOTO Getty Images / Gallo Images

Die groter probleem

Ouers is nie alleen te blameer vir die vestiging van emosionele eetpatrone nie. Sosiale norme, soos die uitdeel van stokkielekkers by die dokter se spreekkamer as beloning vir goeie gedrag of afleiding van pyn, advertensies, en kinderprogramme speel almal ’n rol. Hoewel hierdie dinge skadeloos lyk wanneer hulle in isolasie beskou word, vestig dit oor tyd ’n assosiasie by ’n kind tussen goeie gedrag of negatiewe emosies en kos.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe stop ek dit?

Die groot geheim is om nie die proses aan die gang te sit nie. As jy nie jou kind troos met ’n stukkie sjokolade nie, sal sy ook nie volgende keer ’n bederfie kom soek ná ’n rowwe dag by die speelskool of ’n kopstamp met boetie nie. Liefde, aandag en die bevestiging dat jy daar is vir jou kind, is al wat nodig is. Maar hoe gemaak as ’n negatiewe patroon reeds gevestig is? Dan sal jy moet “herprogrammeer”. Kinders sal nie verstaan waarom jy skielik anders optree nie. Dit is beter om eerder die “trooskos” uit die huis te verwyder. Dit is nie nodig om hierdie items vir ewig te verban nie, maar net om die versoeking tydelik te verwyder totdat dit weer beskou kan word as ’n doodgewone bederfhappie, en nie meer as ’n simbool van liefde nie.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe help ek my kind?

Daar is verskillende benaderings wat jy kan probeer, afhangend van jou kind se ouderdom en temperament, en jul gesinsomstandighede. Hou altyd in gedagte dat ’n kind wat emosioneel eet reageer op ’n onderliggende gevoel. Hier is ’n paar wenke:

- Identifiseer die onderliggende emosie wat aanleiding gee tot ’n soeke na troos. Gelukkig is jy as ouer die eerste prys vir ’n kind tussen een en ses jaar oud wanneer dit by troos kom. Jou tyd, aandag of drukkie is dikwels al wat nodig is. Die sjokolade beklee maar ’n flouerige tweede plek.

- As jy goeie gedrag of sukses saam met jou sesjarige wil vier, beplan ’n aktiwiteit om saam te geniet, soos ’n uitstappie na die fliek, park of strand.

- Met ’n tweejarige werk dit dikwels om hande te klap, hom toe te juig of individuele aandag te gee deur saam blokkies te bou of te teken.

- Wanneer jou kind val of vassit met ’n maatjie, is dit ’n goeie idee om by haar te sit, vir hom ’n drukkie te gee, te luister en ’n bietjie tyd saam deur te bring totdat die ergste seer oorgewaai het.

Multi-ethnic best friends children eating ice-crea
FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe weet ek of my kind emosioneel eet?

Soms wil kinders meer kos hê omdat hulle deur ’n versnelde groeifase gaan en ekstra energie nodig het vir die bou van nuwe selle. Vra jouself af of jou kind ’n groter verskeidenheid kossoorte eet en groter porsies baasraak tydens maaltye, of net spesifieke items uitsoek en ander weier. Wanneer kinders op hongertekens reageer, sal hulle gewoonlik meer eet van ’n verskeidenheid voedselsoorte en die meeste kosse aanvaar wat voorgesit word. Emosionele eetgewoontes, daarenteen, is gewoonlik gefokus op ’n spesifieke kossoort, soos om altyd vir ’n koekie, jogurt of lekkerny te vra.

Hongerteken of ongemak?

Babas het aanvanklik net een manier van kommunikeer: huil. Dit is maklik om jou baba se gehuil vir aandag, uit verveeldheid, weens rusteloosheid of fisieke ongemak (soos ’n vuil doek) verkeerdelik te vertolk as hongertekens. Dit kan onbewustelik by jou kind ’n konneksie vestig tussen kos en vertroosting. Gelukkig is dit op sigself nie genoeg om ’n patroon van emosionele etery te vestig nie. Wanneer dit egter gepaard gaan met die voortdurende gebruik van kos om sukses te vier of jou kind te troos, kan dit tot ’n probleem lei.

Dié artikel word kleurryk aangebied in die nuwe bêreboek SARIE Eet! (nou te koop). 

SARIE Eet! ONTWERP Hanri Gerischer

Soek jy nog raad, wenke en heerlike resepte waaraan jou kleingoed kan smul? Koop SARIE Eet!

Waaroor kan jy nog lees?

Só maak jy met fiemies | Die A-Z van mikronutriënte | Suiker: Weet hoeveel jou kind inneem | Porsies vir elke ouderdom | Help jou tas-defensiewe kind | Alles oor kosallergieë en -intoleransies | Voed jou kind se verbeelding | Die waarheid oor geriefskos | Koshigiëne | Maaltydplan en inkopielys | Vrugte en groente vir elke seisoen | Gesonde happies vir tussenin PLUS nog hope resepte, idees en wenke!