Juanita du Plessis het vanoggend getwiet:

Het vanoggend my oë laat laser.. Was vrek bang, maar dit was glad nie seer nie! Moes dit al lankal gedoen het!! So, nou moet ek myself bietjie rustig gedra.. X
SARIE se gesondheidsjoernalis, Lydia van der Merwe, het self hierdie prosedure gehad en deel haar ervaring daarvan:
Ekself het die laat doen en kan dit aanbeveel. Dis soos spookasem eet. Ek het terselfdertyd ’n lensvervanging gekry, so myne was meer ingewikkeld en steeds was dit baie min moeite vir wonderlike resultate: ‘n Lewe sonder ’n bril.

Beskerm jou oë met stylvolle sonbrille uit die SARIE-winkel!

Gooi jou bril weg

Ná jare se sukkel met brille en kontaklense, kan jou sig wonderbaarlik herstel – soms tot 100%. Met die jongste tegnieke in laser-oogchirurgie is daar min mense wat nie gehelp kan word nie.

Dis ‘n uitkoms as jy sportief is, ‘n werk doen waar ‘n bril in die pad is -- of bloot nooit vrede met joune kon maak nie.

Jou kornea (of horingvlies, die deursigtige, sirkelvormige deel voor aan jou oogbal) en lens werk saam om ligstrale op jou retina aan die agterkant van jou oog te fokus. Jou retina omskep lig in elektriese impulse. Dit word na jou brein gestuur wat die beeld interpreteer. En jy sien.

Versiendheid (jy sien goed ver sien maar voorwerpe naby jou is dof), bysiendheid (jy kan nie ver goed sien nie), en astigmatisme (jou kornea is ovaalvormig en nie rond nie), word refraksiefoute genoem. Ligstrale fokus dan nie op jou retina nie: Dis omdat die vorm van jou oogbal of kromming van jou kornea verkeerd is. Keratotomie is die regstelling van refraksiefoute deur die ronding van jou kornea met ‘n skalpel of laserstraal af te plat.

Daar is risiko’s, maar min. Dit sluit in moontlike infeksie en die kans dat jou kornea beskadig word.

Gereelde vrae

1. Is dit pynlik? Jy het tydens chirurgie min of geen ongemak nie. Jou oë word met druppels verdoof en jy is heeltyd wakker. Jy gaan dieselfde dag nog huis toe. Jy oë kan ‘n dag of twee  krapperig, rooi, geïrriteerd en ligsensitief wees.

2. Kan albei my oë gelyk gedoen word? Die meeste mense verkies dit. Jy kan ook eers aan jou een oog laat werk en later aan die ander een.

3. Sal ek dadelik kan bestuur en gaan werk? Jy kan so een tot drie dae daarna bestuur. Die meeste mense gaan twee tot vier dae ná die prosedure terug werk toe.

4. Is dit permanent? Sommige mense wat perfekte sig ná die chirurgie het, vind dat een of albei oë mettertyd weer effens bysiende raak. Dit kan met nog laser, ‘n bril of kontaklense reggestel word.

5. Kan my sig ná die chirurgie swakker wees? Ja, as daar komplikasies is. Dit gebeur egter baie selde.

6. Kan ek vandag by ‘n kliniek instap en dit laat doen? Nee. Sekere toetse moet voor die tyd gedoen word. Dit sluit ‘n volledige ondersoek in om te bepaal of jy nie ‘n oogsiekte het nie. Daar word ook bepaal wat jou oog se presiese fokus-afwyking is. Moenie voor die ondersoek kontaklense dra nie.

7. Langtermyn-effek? Die word sedert 1987 gedoen en die langtermyn-effek is nog nie beken nie.

8. Sommige mediese fondse betaal daarvoor, afhangende van hoe swak jou oë is.

Is dit vir jou?

Dis nie vir almal geskik nie. Jy moet bo 20 wees. Jou visie moet minstens ‘n jaar lank stabiel wees. Jy moenie siektes van die kornea en retina, soos gloukoom en katarakte, hê nie. Dis nie geskik as jy swanger is, binne ses maande wil swanger raak of borsvoed nie. (Jou oog-refraksie kan tydens swangerskap verander.) Of as jy ‘n siekte het wat jou immuniteit onderdruk (soos MIV of gewrigsrumatiek) nie. Ook nie as jy net ‘n leesbril dra nie.

Kontak:

SA Oogkundige Vereniging: 011 805 4517
Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes: 012 452 3811

UIT: SARIE, Februarie 2010

Alles wat jy moet weet om van oog-gesonheid. Van grimering tot brille tot sonlig!

Ander sterre wat al laser-behandelings ondergaan het:

Brad Pitt (regs)

Die voormalige Spice Girl Mel B

Jessica Simpson en haar sus Ashlee Simpson

Courtney Cox

Cindy Crawford

Brad Pitt
Nicole Kidman

Nicole Kidman (links)

Elton John

Brooke Shields

Tiger Woods