Vroeg ryp, vroeg vrot? Dit lyk of Justin Bieber dieselfde paadjie loop as ander kindersterre soos Lindsay Lohan en Britney Spears. Dié 20-jarige sanger is onlangs weer in hegtenis geneem nadat hy na bewering roekeloos bestuur het. Justin en sy meisie, die sangeres en aktrise Selena Gomez, was tydens hul vakansie in sy tuisland Kanada in ’n motorongeluk. Hul veldvoertuig het met ’n voertuig gebots, waarna daar ’n bakleiery was, berig Daily Mail. Justin se regspan het in ’n verklaring gesê dat Justin en Selena se vakansie deur die paparazzi versteur is. Daar is klagtes van roekelose bestuur en aanranding gemaak.

Justin verskyn op 29 September in ’n hof in Ontario, Kanada.

Justin Bieber FOTO: Instagram (@justinbieber)

Die voorval volg ná ’n klein ongeluk verlede week waar ’n lid van die paparazzi in hom vasgery het. ’n Ooggetuie het gesê Justin het vinnig remme getrap, en daarna het die ander kar in hom vasgery.

Justin het in die verlede al klagtes van roekelose bestuur teen hom gehad. Hy het ook al die paparazzi bygedam en was gearresteer nadat hy sy bure se huis met eiers bestook en in die proses sowat $20 000 (R214 000) se skade aangerig het.

Bronne: Daily Mail, The Guardian, NY Daily News

Lees ook