“Toe ons die eerste keer ontmoet het, het Nadia pas haar vorige verhouding beëindig. Ons was kollegas by Binnelanders en ek het hard probeer om my gevoelens vir haar te ignoreer. Ek het gedink dit sou moeilik wees om saam te werk en ’n verhouding te hê. Maar sy’t so ’n wonderlike lag en sy’s pret.

“Ek wil nou nie cliché-agtig klink nie, maar sy het die mooiste oë.

“Ons het albei ons gevoelens op die agtergrond geskuif, maar ons het net te veel van mekaar gehou. Toe gebeur die lewe: Ons het ’n verhoudig begin. Ek is mal oor hoe gemaklik sy in haar vel is en hoe ernstig sy haar werk as aktrise opneem. Dít is een van die dinge wat ons gemeen het.

“Een van die groot lekkertes is om op ’n Sondagoggend saam koerant te lees en daarna te gesels oor wat in die wêreld aangaan. En ja, ons gesels lekker. Ek glo dit is wat nodig is in ’n verhouding: Jy moet oor alles kan praat. Ek probeer om vir haar te sê hoe ek voel al laat dit my dalk minder na ’n man lyk as ek emosionele dinge deel.

“Ek het een oggend wakker geword – ek kan nie eens presies onthou wanneer nie – en besef my verhouding met Nadia is ernstig en dat ons ’n pad saam gaan loop.”

 

‘Soms wag daar iets wonderliks op jou as jy ’n kans vat’ - Nadia